Elke vierkante meter tel
Sel: 0783343867

Posts Tagged soil microbes

Agteruit-ge-erdwurmboer

Agteruit-ge-erdwurmboer

Die afgelope paar maande het my erdwurmboerdery agteruitgegaan. Ek bedoel ek het AGTERUIT-GE- ERDWURMBOER! Die rede is bloot omdat ek in ‘n paar tegniese probleme vasgeloop het en omdat ek ook ‘n nuwe gewaarwording gemaak het. Ek het vir soveel van julle belowe dat ek aan die tegniese probleem werk en vandag is 2014 alreeds (amper ) twee weke aan die gang en steeds kry ek nie die probleem opgelos nie. Die tegniese probleem het so drie of vier maande gelede sy kop uitgesteek! Dit is een aspek van die agteruitgang wat my erdwurmboerdery beleef het. Die probleem in kombinasie met die gewaarwording het daartoe bygedrae dat ek so ‘n bietjie afstand van die boerdery gaan soek het. Ek het die bestaande erdwurmkompos gebruik vir my groentetuine en die erdwurms net genoeg kos gegee om nie my hele boerdery tot niet te laat gaan nie.

Die gewaarwording het my egter op nuwe paaie gestuur nadat ek die volgende eendag aan my volgeling op Twitter ge-Tweet het:

“I always thought my #earthworms are working hard to make compost for me. Now I know it’s me working hard to supply them with organic waste.”

Om die “harde werk” in perspektief te stel: Toe ek die gewaarwording ge-Tweet het, het ek ongeveer 4 bakkie vragte beesmis op ‘n dag by ‘n melkstal gaan oplaai! Die oplaai is redelik maklik, maar die mis moes elke keer met die hande afgelaai word. Enige iemand wat al met mis gewerk het, sal weet dat ‘n mens voel dat jy net nie meer daarmee wil aangaan nie.Die enigste uitweg is om te meganiseer, maar dit kos geld. Dit in kort hoekom ek bietjie  AGTERUIT-GE- ERDWURMBOER het.

In die tussentyd het dinge egter nie heeltemal gaan stilstaan nie. My nuwe leuse (en vir baie mense net ‘n cliché) is deesdae “It’s not about the destination, it’s about the journey!” terwyl ek kopkrap oor die mishantering en erdwurmboerdery – en kompostering, het ek my aandag meer op kompostee begin toespits. Die kompostee bied die moontlikheid om op ‘n kleiner skaal erdwurmkompos (of enige ander kompos) te produseer en die gunstige mikrobes in die (erdwurm)kompos in water te vermeerder en op jou tuin of lande toe te dien.

Een van my Twitter volgelinge @Healthy_Soils  (Hendrik Smith van Graan Sa) het toe op die bogaande Tweet ge-antwoord:

“Correct, it is quite energy intensive. I perceive normal compost, mulching or crop diversity as better practices.”

Hendrik kom DV die 21ste Januarie 2014 hier by ons met ‘n groep boere oor bewaringsboerdery gesels en die moontlikheid van ‘n bewaringsboerdery studiegroep het sodoende op die tafel verskyn.

My belangstelling in kompostee en die antwoord op my Tweet, het verder bygedra dat ek meer aandag aan my tuin en landbou grond begin gee het. Nie net my eie grond nie, maar ook my vriende en bure se grond. Ek het al hoe meer vrae begin vra, is ons besig om ons grond af te breek of op te bou? Hoe kan ek my grond gesond kry en hou? Deur na die vrae te kyk het ek besef dat die gewone gronderdwurms (endogeic spesies) wat in ons grond voorkom ‘n belangrike rol speel, eerstens as aanduiders van grond gesondheid en tweedens as handhawers van grondgesondheid.  Ek het lankal reeds deklae (“mulching”) en kompos op my grond begin gebruik en die waarde daarvan besef. Met my nuwe ontdekkings en leeswerk het ek die wetenskap agter die gebruik van deklae en kompos ontdek. Daarmee saam ook hoekom kompostee so ‘n goeie produk is om te gebruik. Watter effek die onderskeie elemente op erdwurms in die grond het.

Met die nuwe kennis oor die rol van endogeic erdwurms in ons grond het ek egter ook begin VOORUIT-ERDWURMBOER, want die erdwurms in my land en tuin het meer geword. Agteruitgang is nie noodwendig ‘n verkeerde ding nie! Die komende jaar gaan ek dus nie net op epigeic erdwurms en die komposteringsprosesse aandag gee nie, ek gaan ook op my endogeic erdwurms konsentreer. Die fokus op beide erdwurmspesies, gaan ook reflekteer op die samestelling van my webblad, waaraan ek tans werk om op datum te bring. Die veranderings behoort binne ‘n week of twee sigbaar te wees!

Dit maak dus nie saak hoe nie, maar erdwurms boer, gaan ek erdwurms boer. Nie net wil ek erdwurms boer nie, ek wil ook nie meer sonder hulle boer nie.

Facebooktwitter