Elke vierkante meter tel
Sel: 0783343867

Posts Tagged probleme

Goeie Nuus vs Slegte Nuus

Goeie Nuus vs Slegte Nuus

Die Engelse het ‘n spreekwoord: “No news is good news.” Die spreekwoord kom daarop neer dat as jy nie nuus van iemand af hoor nie, beteken dit dat niks verkeerd gaan. Beteken dit dan dat alle nuus, slegte nuus is? In Suid-Afrika  is dit blykbaar die geval dat die media net slegte nuus aan ons opdis en die media word geblameer vir die negatiwiteit wat daar in Suid-Afrika heers. Dit gaan sover dat die SABC 70% van hulle nuusinhoud goeie nuus wil maak of positiewe stories wil vertel. Dit klink nogal lekker op die oor die idee dat ons eerder goeie nuus (of positiewe stories soos hulle daarna verwys) gaan hoor.  Ek het die eerste keer hiervan gehoor toe ek Loslip op RSG geluister het.

Teenoor die standpunt om mense met goeie nuus te oorlaai, vra Aletta van der Walt in die laaste uitgawe van Farmers Weekly in haar redaksionele voorwoord: “Should all news be good news?” Sy wil nie wegbly van positiewe stories nie, maar die slegte nuus moet gehoor word. Ek stem daarmee saam.

Ek wil ook graag ‘n bydrae probeer lewer en vra: Is goeie nuus bloot die afwesigheid van slegte nuus of te wel dinge wat verkeerd loop? Is slegte nuus bloot net die afwesigheid van iets wat reg loop? Voor ek na die vrae kyk net nog iets. Goeie nuus was nog altyd goeie nuus, bv. Jy het R1 miljoen ryk geword. Slegte nuus was nog altyd slegte nuus, bv. Iemand baie naby aan jou is oorlede.

Terug by my vrae. Die manier waarop slegte nuus vir ons meegedeel word in veral die media, laat die gevoel by my dikwels ontstaan dat as dinge sleg gaan, is daar niks wat daaraan gedoen kan word nie. Byvoorbeeld: Rentekoerse gaan af, mense wat geld spaar gaan aan die kortste ent trek. Inflasie is hoog, jy gaan met jou maandelikse salaris nou soveel minder kan koop. Werkloosheid word meer, jy kan afgedank word. Misdaad raak erger, jy kan die volgende slagoffer wees. Produksiekoste is hoog, dit gaan hoër word. Ons is in ‘n droogte siklus, jy gaan minder ton per hektaar oes.

Tog as jy oor enige van die bogenoemde slegte nuus ‘n Google vraag vra, is die oplossing vir jou probleem binne die eerste twee bladsye van jou soektog beskikbaar. Jy sal sien dat alhoewel rentekoerse laag is, jou geld tog meer kan raak. Nie dat ek Google met alles wat ek het vertrou nie, maar dit was met behulp van Google dat ek van erdwurmboerdery, eie groente produksie, gesonder en spaarsamiger leefwyse geleer het. Daar is soveel meer wat ek kan noem.

Met die erdwurmboerdery en -kompostering die afgelope paar jaar, het my sienswyse oor baie dinge verander. Ek het onlangs eers by die wetenskap agter erdwurmkompos uitgekom. Die wetenskap het nuwe wêrelde vir my oopgemaak. Een van die wêrelde is die wêreld onder jou voete. Die mikro-organismes in die grond wat plante nodig het om gesonde kos vir jou te gee.  Deur hierdie mikro-organismes die regte kos te gee, kan volhoubaarheid van voedselproduksie verhoog word. Met hierdie beginsels het ek geleer dat ek met  5 vierkante meter genoeg groente vir myself en my gesin in ‘n jaar kan produseer en dan nog so nou en dan iets weggee vir ‘n werker of ‘n vriend. Dink net watse revolusionêre konsep dit is om op 5 vierkante meter groente vir jouself te produseer.

Gaan goeie nuus nie dalk ook daaroor dat daar ‘n oplossing vir ‘n bepaalde probleem of probleme is nie? Daar is baie oplossing vir ons probleme daar buite. Gaan praat met mense, vriende, kennisse of gaan Google. Dalk moet die balans tussen goeie nuus en slegte nuus herstel word in Suid-Afrika. Die balans lê egter nie daarin om mooi oulike positiewe stories op te dis soos E-TV aan die einde van die nuusbulletin nie en dit goeie nuus te noem nie. Gee vir ons die oplossings vir dit waarmee ons sukkel?

Facebooktwitter