Elke vierkante meter tel
Sel: 0783343867

Posts Tagged outside the box

Onbekende teorieë

Onbekende teorieë

Die afgelope paar jaar het ek baie ge-“Google”. Ek het oor ‘n wye verskeidenheid onderwerpe gelees en webblaaie besoek en in die proses het ek nuwe (of eerder onbekende) teorieë raakgelees. Teorieë wat die grense van wat ons in die algemeen aanvaar, verbreek. Ongelukkig is ek nie ‘n mens wat net lees oor idees nie, maar ek wil dit graag eerstehands toepas om te kyk of die mense my nie ‘n rat voor die oë probeer draai nie.

Al lesende het erdwurms, erdwurmkompos en erdwurmtee my begin fasineer. Van teorie na praktyk kon ek op klein groentebeddings vir groot groenteboere wys dat kunsmis oorbodig is as jy met kompos en kompostee begin werk. Ook siektes en plae kan goedkoper bestuur word. Ek het op my een hektaar grond, na drie jaar se kompos, kompostee, hoendermis en kalk toediening, uit die kunsmishandelaar se grondontleding uitgevind dat my grond se ontledings optimaal reg is, sonder dat ek in drie jaar chemiese kunsmis by hom gekoop het. Dit wat in my groentetuin gebeur het, het lynreg ingegaan by dit wat boere by hulle landbouvoorligters geleer het.

Al lesende oor die mens se oë (ek dra al vir twintig jaar ‘n bril en jaarliks moes ek ‘n sterker voorskrif kry) het ek op ‘n boek afgekom waarin vertel word dat jy met behulp van oogoefeninge jou sig kan verbeter. Van teorie na praktyk het ek na die oogkundige gegaan en ‘n ongelooglike verbetering na net ses weke se oogoefeninge gesien. Nou, na ses maande, dra ek nie meer bril nie! Dit wat ‘n oogkundige in ‘n graadkursus geleer het, kon my nie help om my sig te verbeter nie, inteendeel kon dit net help dat my oë jaarliks verswak en ek jaarliks ‘n nuwe bril moes koop! Ek het een boek  gelees. Dit wat universiteite leer oor sig en dit wat ek raakgelees het, bots lynreg met mekaar.

Dan kan ek ook ‘n persoonlike saak aanraak. My vrou het gesukkel om swanger te raak as gevolg van ‘n onderaktiewe skildklier en in plaas daarvan om Eltroxin, soos alle dokters wou voorskryf, te gebruik, het sy begin (en ek saam met haar ter ondersteuning) om gesond te eet. Skielik na drie maande het haar skuldklier weer reg begin funksioneer. Dit was ses jaar gelede. Vandag is ons drie kinders ryker. Almal weet dat as jy eenmaal Eltroxin begin gebruik, jy dit vir die res van jou lewe sal moet gebruik. Dit wat ons gedoen het, het ingedruis teen met dit wat dokters wou voorskryf.

Tydens ‘n jaarlikse besoek aan ‘n tandarts, het die tandarts vir Vroulief vertel dat van haar tande wat tydens ‘n vorige besoek gemerk het as besig om gaatjies te kry, herstel het. Sy het gaan “Google” en uitgevind dat deur die regte kos te eet, tande kan herstel. ‘n Idee wat lynreg bots met dit wat ek van kindsbeen af geleer het dat jy net een stel tande het.

As gevolg van hierdie paar voorbeelde van eiehandse ervarings, het ek redelik skepties begin raak oor die “wetenskap” en wat ons op universiteit geleer word. My vraag is net as ek kyk na hedendaagse uitdagings wat die wêreld in die algemeen en Suid-Afrika in die besondere die hoof moet bied, of oplossings vir die uitdagings nie baie nader is as wat ons dink nie. Watter onbekende teorieë (omdat die universiteite nie meer wetenskaplik genoeg is om studente al die teorieë te wys nie) is daar wat armoede-, elektrisiteitsvoorsienings-, waterbesparings- en voedselproduksieprobleme ‘n nekslag kan toedien nie?

Facebooktwitter