Elke vierkante meter tel
Sel: 0783343867

Posts Tagged nutrient cycle

‘n Gebroke voedingstowwesiklus, ‘n bose kringloop

‘n Gebroke voedingstowwesiklus, ‘n bose kringloop

Almal wat al ooit probeer het om ‘n plant te laat groei, sal weet dat die regte hoeveelheid stikstof baie belangrik vir ‘n plant is. In die natuur, waar geen mens betrokke is nie, is daar ‘n natuurlike siklus wat jaar na jaar, seisoen na seisoen, dag na dag afspeel. In die ondergaande prent (raakgeloop by verskeie plekke op die internet en in Afrikaans vertaal deur  http://www.mieliestronk.com/stikstofsiklus.html) kan ‘n idee gekry word van hoe die siklus loop. Die prentjie is redelik selfverklarend. Kyk mooi na die prentjie? Wat meeste mense egter miskyk en glad nie raaksien nie, is die betrokkenheid van mikro-organismes (mikrobes) in die hersirkulasie van stikstof. In die natuur word nooit enige stikstof van buite bygevoeg om lewe te onderhou nie.

Voedingstowwe siklus

Vat byvoorbeeld Namakwaland se blomme. Niemand het nodig om ‘n gram stikstof te gooi om daardie blommeprag te bewerkstellig nie, maar die oomblik dat jy ‘n Namakwalandse Daisy in jou tuin plant, dan wil die blom nie groei soos hy in die natuur groei nie. Die vraag is: hoekom nie? Kom ons probeer die vraag be-antwoord.

In die bogaande prentjie kan jy ‘n ingewikkelde voedselnetwerk sien. Byvoorbeeld: Die muis eet die plant. Die muis se mis beland in die grond en mikrobes ontbind die mis. Die mikrobes ontbind nie net die mis nie, maar ook dooi plantmateriaal (bv. Herfsblare) Mikrobes groei in simbiose op die plantwortels (stikstofbindende bakterieë). ‘n Mens sou selfs erdwurms en ander goggas in die prentjie wou inbring om die voedselnetwerk beter te kon beskryf. Tog is dit duidelik dat elke lewende organisme bydrae to die gesondheid van ‘n ekosisteem. Daarom is biodiversiteit bo en onder die grond van uiterste belang. Die onderstaande prentjie skets die voedselnetwerk mooi:

Voedselnetwerk

In ons tuinmaak en boerdery bedrywighede het hierdie biodiversiteit van plante, diere en mikrobes tot niet gegaan. As jy byvoorbeeld die peulgewasse (ertjies, boontjies, lusern, klawers) uit die prentjie haal, gaan jy ook die  stikstoffikserende bakterieë uit die prentjie haal. Ons het die natuurlike voedingstowwesiklus gebreek. Erdwurms is gewoonlik ‘n goeie aanduiding van jou grond en ekosisteem se gesondheid. Hoe meer erdwurms in jou grond, hoe gesonder. Hoe minder erdwurms in jou grond, hoe sieker. ‘n Gebroke voedingstowwesiklus, lei tot ‘n bose kringloop.

Die bose kringloop van ‘n gebroke voedingstowwesiklus kan min of meer as volg beskryf kan word. As jou grondlewe begin agteruitgaan, moet jy byvoorbeeld stikstof in ‘n pakkie by die ko-operasie of kwekery gaan koop om in jou grond toe te voeg omdat peulgewasse en stikstofbindende bakterieë verdwyn het. Omdat jou grondlewe versteur word en jy nou ‘n kunsmatige kunsmis gebruik, begin jou ekosisteem siek raak en plantsiektes neem toe. Dan begin jy gif koop om die siektes te bestry. Die gif maak meer as net die skadelike organismes dood en selfs die goeie organismes vrek.

Bose kringloop

Of jy boer en of jy nie boer nie. Hierdie bose kringloop raak ons almal. As gevolg van die gebroke voedingstowwesiklus en almal se afhanklikheid van sintetiese kunsmis en giwwe, het ons samelewing se gesondheid ‘n knou gekry. Omdat die boer se insetkostes al hoër raak, raak die rak- of markprys van kos al hoe duurder. Inflasie word opgejaag as gevolg van ‘n bose kringloop as gevolg van ‘n gebroke voedingstowwesiklus.

Baie van ons het nog nooit sy/ haar eie kos verbou nie. Ons het verleer om ons eie kos te verbou, aangesien ons vertrou het op kundiges wat die boere help om in ons voedselsekerheid te voorsien. Die kundiges het ons gefaal.

Ek wens dat ek kon sê dat dit maklik is om weer die leisels op te tel, maar dit is nie. As jou grond in jou tuin of landbougrond nie meer produktief is nie, sal jy moet tyd en geld belê om dit weer produktief te maak. Jy hoef nie alles op die spel te plaas om iets so basies om ‘n paar groente te verbou nie. Jy het net 3 vierkante meter nodig vir jou groentebehoeftes. Dalk, net dalk as ons almal saamwerk, kan ons die bose kringloop breek en weer terugkom by ‘n gesonde voedingstowwesiklus.

Facebooktwitter