Elke vierkante meter tel
Sel: 0783343867

Posts Tagged notill

One Straw Revolution

One Straw Revolution

In 1975 skryf Masanobu Fukuoka (1913-2008) The One Straw Revolution: An introduction to natural farming. ‘n Boek oor “doen niks boerdery.” ‘n Boek oor “natuurlike boerdery”. Hy sê nie dat ‘n boer moet niks doen nie en dat die natuur net sy gang moet gaan nie. Dit noem hy verwaarlosing. Dit gaan oor ‘n boerdery waarin die boer soveel moontlik die natuur se prosesse gebruik om ‘n oes te lewer. Hy wou nie verbeter op die natuur nie, hy het met die natuur saamgewerk. Alhoewel die fokus van die boek op boerdery val, is dit geensins ‘n boek net oor boerdery nie. Die boek gaan oor ‘n lewensfilosofie van ‘n man wat in Japan gelewe het.

Toe hy The One Straw revolution geskryf het, het hy alreeds vir vyf-en-twintig jaar nie sy lande geploeg nie. Sedert die 1950’s het hy niks chemiese kunsmis gegooi nie en ook geen chemiese plaagbeheer toegepas nie. Tog het sy opbrengs vergelyk met enige ander kommersiële boer in sy omgewing. Dit klink ongelooflik en in sy eie woorde vertel hy:

The method completely contradicts modern agriculture techniques. It throws scientific knowledge and traditional know-how farming out the window. With this kind of farming, which uses no machines, no prepared fertilizer and no chemicals, it is possible to attain harvest equal to or greater than that of the average Japanese farm. The proof is ripening before your eyes.

Die rede hoekom boere nie geneig is om oor te skakel natuurboerdery toe nie, is omdat hy oortuig is dat boere die verkeerde vrae vra as dit gaan oor die hantering en bestuur van gesaaides. Boere is geneig om te vra: “Wat moet ons volgende doen?” Hulle moet eerder vra: “Wat moet ons nie doen nie.” Die rede hoekom boere die heeltyd moet dink oor wat om volgende te doen, is omdat die natuurlike balans op hul plase en in hulle grond totaal uit balans gegooi is. Die balans is so deur boerdery aktiwiteite versteur, dat die grond begin afhanklik raak het van die boer se aktiwiteite. Mense ken nie meer die natuur nie en Fukuoka se pleidooi was dat mense net weer vir ‘n slag sal gaan sit en kyk wat in die natuur aangaan. As voorbeeld van hoe om die natuur te verstaan, verwys hy na skadelike insekte wat nie sy oeste vernietig nie, omdat die voordelige insekte in soveel meer getalle op sy plaas is.

Fukuoka gebruik ‘n kombinasie van strooi, klawers, weiwieke en lusern om sy grond bedek te hou. Saad word met klei bedek om klein kleiballetjies te vorm en dan word die saad in die dekgewas en deklaag ingesaai. Dit is ‘n proses wat jy liefs in die boek moet lees om mooi te verstaan. Om meer oor die maak van die kleiballetjies uit te vind, kan jy hier gaan lees. http://permaculturenews.org/2014/06/18/making-seedballs-ancient-method-till-agriculture/ Deur die grond bedek te hou en op die manier op te bou, hoef hy nie soos sy buurmanne sy ryslande permanent met ‘n paar duim water gevul te hou nie. Hy gee vroeg in die seisoen water wat vir ‘n week in die land staan. Die idee is om klawers wat met die rys kan kompeteer bietjie terug te hou totdat die rysplante sterk genoeg is. Dan laat hy die water uit en die klawers groei weer tussen die rysplante in. Vir die eerste helfte van die seisoen hierna, lei hy glad nie weer sy grond nat nie. Die grond onder die strooibedekking bly heeltyd klam. As hy laat in die seisoen moet natlei, lei hy bietjies-bietjies water op ‘n slag, maar laat nooit die water opdam of in die land staan nie.

Hy boer ook met sitrusbome wat hy nooit snoei nie en hy laat hulle natuurlik groei soos hulle wil. Dan saai hy ook ‘n groot verskeidenheid groentesaad tussen die bome in wat saam met die klawers, weiwieke en lusern deel word van die landskap en grondbedekking. Hy laat altyd van die groente saad skiet en op hierdie wyse groei daar allerhande soorte groente op sy plaas wat elke jaar vanself opkom.

Die plase in Japan is klein plase. Fukuoka glo dat 100% van ‘n land se bevolking boere behoort te wees.

In my opinion, if 100% of the people were farming it would be ideal. If each person were given one quarter-acre, that is 1 1/4 acres to a family of five, that would be more than enough land to support the family for the whole year. If natural farming were practiced, a farmer would also have plenty of time for leisure and social activities within the village community. I think this is the most direct path toward making this country a happy, pleasant land.

1 ¼ akker is ongeveer ½ hektaar. Deur ‘n half hektaar per familie toe te ken, kan ‘n land se bevolking genoeg of volgens Fukuoka, meer as genoeg, kos vir hulself produseer. Volgens Fukuoka was tussen 70% en 80% van Japan se bevolking na afloop van die Tweede Wêreldoorlog, boere. Die getalle het stelselmatig afgeneem totdat dit in 1975 slegs ongeveer 14% was. Fukuoka wou hê dat die Japanse bevolking weer sou terugkeer na kleinskaalse boerderye. Sodoende sou werk weer ‘n plesier word en sou mense tyd kon kry vir spirituele refleksie.

Alhoewel natuurboerdery soveel sin maak en blyk die rigting te wees om in te beweeg, is Fukuoka ‘n paar keer gevra hoekom dit nie gebeur nie. As voorbeeld verwys hy na ‘n geleentheid toe hy in ‘n vergadering met die lede van die destydse Visburo, die Minister van Landbou en Bosbou en die Landbou Ko-op daarna verwys het dat kos sonder gifstowwe en swaar masjinerie verbou kon word en dat hy dit doen. Hy het ook gevra dat die destydse regering moet ophou om chemiese middels voor te staan. Die groot probleem volgens Fukuoka hoekom natuurboerdery nie gepromofeer word nie en wat hy vir die vergadering genoem het, is die volgende:

If crops where to be grown without chemicals, fertilizer, or machinery, the giant chemical companies would become unnecessary and the government’s Agricultural Co-op Agency would collapse. To put the matter right out front, I said that the Co-ops and modern agricultural policy makers depend on large capital investment in fertilizer and agriculutral machinery for their base power. To do away with machinery and chemicals would bring about a complete change in the economic and social structures.

Hy is stilgemaak deur die voorsitter omdat hy die vergadering “ontstel” het.

Ek wonder dikwels hoe dit gebeur dat bewaringslandboupraktyke nie in Vaalharts (waar ek woon) toegepas word nie. Met hoe meer boere ek gesels, hoe meer kom ek agter dat hier in ons wêreld ‘n informasieblok is wat verhinder dat inligting by die boere uitkom. Tog word bewaringslandboupraktyke al vir dertig jaar elders in die land toegepas. Wat verder interessant is, is dat Fukuoka in ‘n ander boek Sowings seeds in the desert verwys na ‘n :

teacher who was involved in South Africa’s anti-apartheid movement came to my hillside hut in Japan once and asked to be taught the methods of natural farming. It happens that when he came I was harvesting rice with a sickle. He said he wanted to learn how to use a sickle. It seemed from his stories that most of the people in South Africa do not know how to sow seeds or to take care of plants once they have sprouted. When I heard from him several years later, he said that he was having greater success teaching people that they could achieve independence by starting a natural farm than he had by spreading the political message of the independence movement.

Wie was hierdie man na wie Fukuoka verwys het. Waar het mense in Suid-Afrika natuurlike plase aangelê? Wat het geword van die plase? Is die rede hoekom so min mense en boere in Suid-Afrika iets van bewaringslandbou en natuurlikboerdery, die rede waarna Fukuoka verwys? Hoe sal die ekonomiese en sosiale strukture in Suid-Afrika verander as meer mense (al is dit ‘n vierkante meter) groente begin produseer en onafhanklik word, al is dit net onafhanklik in terme van kos wat nie by ‘n supermark gekoop hoef te word nie?

Terwyl ek The One Straw Revolution gelees het, het ek besef dat ek die afgelope paar jaar soveel van Fukuoka se beginsels op my plaas begin toepas het. Die rimpeleffek van Fukuoka se filosofie en navorsing het my lankal bereik, ek kon net nie presies vasstel wat die klippie was wat die rimpeleffek veroorsaak het nie.  Nou kan ek soveel meer doen. Ons is almal net dwergies wat staan op die skouers van reuse wat voor ons gegaan het.

Facebooktwitter