Elke vierkante meter tel
Sel: 0783343867

Posts Tagged no-till

Nuwejaarsboodskap 30 Desember 2015

Nuwejaarsboodskap 30 Desember 2015

Soms moet jy sê wat jy moet sê. Soms moet jy die olifant in die kamer uitwys. Soms moet jy wys dat die keiser nie klere aan het nie. As jy egter sou sê wat niemand anders wil sê nie of wys wat die ander nie wil sien nie, gaan dit jou baie ongewild maak. Hoekom hou mense nie daarvan om reggehelp te word nie? Wil mense uit hulle eie foute leer? Hoekom wil hulle nie leer uit ander se foute nie? Hoekom wil mense nie uit ander mense se suksesse leer nie?

stofstorms

Ek dink byvoorbeeld dat die “Dust Bowls” wat in die 1930’s in die VSA plaasgevind het, vandag in die Vrystaat en Noordwes plaasvind. Grensdrade is besig om onder sand toegewaai te word. Plek-plek begin sand op die teerpad saampak. Ek het heelwat foto’s van oor die land gekry en ook self foto’s geneem en dinge lyk nie goed nie. Te midde van die stofstorms dring die menigte op sosialemedia bladsye daarop aan dat #rainmustfall. (Dit wil voorkom asof mense reën as ‘n menseregte saak beskou. ‘n Menseregte saak wat soos enige ander in die Suid-Afrikaanse grondwet uitgestippel is). En reën moet val, anders het Suid-Afrika moeilikheid. Maar, maar, kan ons aandring dat reën moet val, as ons Moedernatuur op haar knieë gedwing het. Hoe kan kaalgrond nie wegwaai nie? Hoe kan kaalgrond nie soos ‘n woestyn lyk en maak nie? Gestel nou maar dat reën sou val, dan gaan daardie einste boere met hulle diepbewerktoerusting agter hulle trekkers inspring en aangaan soos hulle laasjaar aangegaan het. In hoe ‘n mate is die huidige droogte en globale verhitting aangejaag deur organiese koolstof wat nie meer in die grond bewaar word nie, as gevolg van verkeerde boerderypraktyke?

As al die saailande wat tans weggewaai word, met ‘n dekgewas of deklaag bedek was, hoeveel koeler sou die omgewing gewees het? In hoe ‘n mate verminder die hoër grondtemperatuur dat dit reën?

Die afgelope paar jaar word “no-till” saaiery bevorder, maar boere sien nie die nut daarvan om oor te skakel nie. Tog is dit nie net die boere wat nie wil oorskakel nie: Ek het eendag vir ‘n klomp landboumaatskappye se bestuurders in ‘n boereunievergadering gesê dat hulle winsmotief ook nog agter die probleem sit. Hulle inkomste kom uit diesel, gif en kunsmis verkope. As alle boere skielik moet oorskakel “no-till” toe, gaan hulle winste in gedrang kom, aangesien “no-till” boere se insetkostes afbring. “No-till” sit meer geld in die boer se sak en minder in die landboumaatskappy se sak. Te midde van die droogte is daar “no-till” boere wat mielies in die grond gekry het sonder dat die mielies weggewaai het.

Een van die boere vertel my dat hy die afgelope 3 jaar 40% hoër opbrengs gehad het teenoor die konvensionele buurmanne. Buurmanne wat tot dusver nog nie ‘n pit kon plant nie, terwyl sy mielies al mooi op is. As landbou- en finansiëlemaatskappye vir boere ‘n een jaar finansiële vakansie kan gee om oor te skakel na “notill” toe, dink net watter verskil dit aan ons samelewing en omgewing sal maak?

 weidingWat van veeboere? Toe dit ‘n jaar of wat gelede nog goed gereën het, het baie van hulle, hulle vee op hulle velde verhoog tot bo die gemiddelde drakrag van die veld sonder om weidingsbestuurpraktyke aan te pas. Kommersiële veeboere en opkomende boere se diere vertrap die veld tot snuif. Teenoor konvensionelebeweiding, het hoëdigtheidsbeweiding na vore gekom. In hoëdigtheidsbeweiding span boere meer kampe en die praktyke word ook al vir ‘n geruime tyd aanbeveel. Tog is boere te gemaklik om in daardie rigting te dink. Van hoëdigtheidsbeweiding is daar in die landelike gebiede van die “tribal lands” geen sprake nie. Boere se beeste loop waar hulle wil. Tog kom die inligting van hoëdigtheidsbeweiding ook nie by hulle uit nie. Die regeringsamptenare wat hulle moet inlig, weet nie eens van hoëdigtheidsbeweiding nie. Beter weidingsbestuur, sou die impak van die droogte vir veeboere ook minder gemaak het. ‘n Vriend vertel my dat hy 100 beeste op 150ha aanhou deur hulle daagliks te skuif in 0.5ha kampies. Die gemiddelde drakrag daar is ongeveer 1 grootvee eenheid op 5ha. Hy wei amper 1 op 1ha. Daar is volgens hom nog baie kos in sy veld. Hy kon sy hele plaas in 1 jaar deurbewei en nou begin hy voor in ‘n kamp wat vir 365 dae gerus het. Anders gesien het hy nog 1 jaar se kos op sy veld oor.

Hoeveel dra die kaal velde by tot hoër omgewingstemperature? In watter mate verhinder die hoë omgewingstemperature dat reën val?

Met die wolkies wat die afgelope paar dae saampak en die hoë vlakke van humiditeit in die binneland, lyk dit asof daar dalk ‘n bietjie reën kan val. Ons hoop dit gaan. Dalk moet ons nie aandring dat #rainmustfall nie. Dalk moet ons eers tot die besef kom dat ons besig is om iets verkeerd te doen en dan besluit om dinge te begin reg doen? By biddae vir reën word gereeld gelees: “As Ek die hemel toesluit, dat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land af te eet, of as Ek pes onder my volk stuur, en my volk, oor wie my Naam uitgeroep is, hulle verootmoedig en bid en my aangesig soek en hulle bekeer van hul verkeerde weë, dan sal Ék uit die hemel hoor en hulle sonde vergewe en hulle land genees (2Kr 7: 13-14). Wat as dae van verootmoediging uitgebrei word tot lewens van verootmoediging? Wat as inwoners van Suid-Afrika nie net aandring op reën nie, maar besef dat die droogte ook dalk ‘n oproep tot bekering is. ‘n Bekering na die God wat hemel en aarde gemaak het. ‘n Oproep tot bekering na die God wat die hemel kan oop- en toesluit wat reën betref? Dalk moet boere ook bekeer van konvensionele boerderymetodes na iets wat meer in lyn is met hoe God se Skepping funksioneer? Dalk moet ons pleit #laatditassebliefreën sodat ons kan regmaak wat ons verbrou het.

Ons groot probleem is dat ons nou al ‘n krisispunt bereik het. Die mieliesaaityd gaan verby. Daar is skaars twee weke planttyd vir mielies oor. Boere kan nie binne twee weke ‘n nuwe boerderypraktyk implimenteer nie. Suid-Afrika se bevolking is vandag baie groter as wat dit was toe die vorige droogtes getref het. Water wat in ander jare vir besproeiing aangewend sou kon word, sal nou eerstens gebruik moet word vir menslike be-hoeftes. Gestel dit reën  nie en gestel die Vaalrivier hou op vloei net soos die Oranjerivier? Hoeveel water is in die Katsedam om losgelaat te word voordat ‘n droogtegeteisterde Lesotho ook drinkwater gaan begin opgaar? Behalwe vir die droogte wat water verminder, is daar ook nog die riool en mynbouwater wat in die riviere beland. Dalk moet die regering van ons land ook besef dat hulle hulself moet bekeer van niksdoen na ietsdoen. Dalk moet hulle weer rioolstelsel aan die werk kry en mynbouers voor stok kry oor hulle agterlosigheid.

Met die tekorte wat vir mielies in 2016 voorspel word, wat gaan gebeur as daar nie meer mieliemeel is wat ge-eet kan word nie en voermaatskappye nie meer genoeg mielies het om voer te produseer vir diere wat weens hongerte vrek nie? As al die ruvoer uitgeput is, wat gaan met beeskuddes gebeur? Wat gaan met beespryse gebeur in 2016, wat van daarna as baie kuddes uitgevrek of –geslag is en boere weer kuddes begin opbou? Wat as die rand nog verder tuimel? Waarheen gaan voedselpryse? Ons infrastruktuur kan nie invoere hanteer as dit op ‘n punt moet kom waar al ons kosvoorraad ingevoer moet word nie. Waar gaan 50 miljoen plus mense kos kry? Die stedeling moenie dink dat hy ongeskonde daarvan gaan afkom nie.

Wat kan ons hieruit leer? Dat die huidige landbou en bemarkingsmodelle nie volhoubaar is nie? Dat as almal help kan ons ons probleme bietjie uitstel? Dat as ons ‘n paar jaar gelede al ons leefstyl aangepas het, dinge vandag anders kon lyk? Dat almal in Suid-Afrika afhanklik van water is? Dat almal in Suid-Afrika afhanklik is van grond om ons kos te produseer? Dat die manier waarop ons ons grond bestuur ‘n direkte gevolg het op wat met ons water gebeur? Dat die manier waarop ons ons grond bestuur ‘n direkte gevolg het op wat met ons mense gebeur?

My vraag is, as die reën sou val, gaan ons in Suid-Afrika aangaan soos ons nog altyd aangegaan het, of gaan ons verander en saamwerk om ons samelewing en omgewing op ‘n gesonde voet te plaas?

Facebooktwitter

Wat ek by KZN No-Till Konferensie geleer het

Wat ek by KZN No-Till Konferensie geleer het
KZN No-till

Die KZN No-till Club Bewaringslandbou konferensie 2015 is van Dinsdag 1 September tot Donderdag 3 September by Drakensville ATKV oord buite Bergville gehou. Dit was my eerste keer dat ek die konferensie bygewoon het en ek hoop dat ek weer daar kan uitkom. Ek het waarskynlik so ses jaar gelede eers werklik van geenbewerking (“no-till”) gehoor en daarin begin belangstel. Dit was ongelooflik om verlede week daar by die konferensie te kon hoor van boere wat die praktyk al vir meer as twintig jaar toepas. Die gedagte wat my die meeste getref het, is hoe kan dit wees dat sommige boere al vir meer as twintig jaar die voordeel van geen bewerking oes, terwyl ander boere steeds nie daaraan as oplossing dink nie.

‘n Waarskynlike rede hoekom die vlakke van aanvaarding van geenbewerking in Suid-Afrika so laag is, het dalk te doen met die gedagte dat “no-till” nie net ‘n kopsaak is nie, maar ook ‘n hartsaak.  Elke spreker wat by die konferensie opgetree het, het nie net ‘n klomp feite vir kennisname uitgedeel nie, maar elke spreker het met oorgawe en passie gepraat van geenbewerkingspraktyke wat hulle self be-oefen en projekte waarby hulle betrokke is. By die konferensie is een of twee keer genoem dat jy nie ‘n “no-till” boer is omdat jy ‘n “no-till” planter gebruik nie. Jy is eers ‘n “no-till” boer as die feite van jou kop na jou hart begin deurwerk het in ‘n liefde vir grond en die mikro-organismes wat in die grond is. Eers wanneer jy werklik besef wat die waarde van ‘n mikroskopiese grote bakterie of die waarde van ‘n erdwurm is en jy alles in jou vermoë doen om die organismes te beskerm, dan kan jy jouself ‘n “no-till” boer noem. Die boere wat ek daar gehoor praat het, al was dit formeel op die verhoog of privaat in ‘n gesprek, het nie net ‘n liefde vir grond nie, maar hulle het ook ‘n uitgesproke onwrikbare geloof en liefde in God wat die grond geskep het. Ergon Zunckel, voorsitter van KZN No-till Club, se woorde vat dit so saam: “As a believer, I am confident that this is the closest method of crop farming to what God intended at creation” “No-till” boerdery is eerstens ‘n hartsaak en dan ‘n kopsaak.

KZN No-till6

Hoe maak jy die skuif in jou kop en dan na jou hart om geenbewerking in jou boerdery te begin toepas? Solank as wat jy grond beskou as iets wat die plante moet regop hou, solank as wat jy na sommige landbouvoorligters luister wat sê dat grond net ‘n groeimedium is en dat alles wat die plant benodig deur ‘n chemiese korrel toegevoeg kan word, solank sal jy nooit oorskakel tot geenbewerkingspraktyke nie. Eers wanneer jy begin besef dat chemie, organies en biologie saamwerk om ‘n plant te laat groei, dan begin die kopskuif kom en word “no-till” ‘n kopsaak. Wanneer jy dan verder besef dat dit wat jy met grond aanvang en hoe dit wat jy met grond doen die kleinste organisme in die grond beskadig of nadelig be-invloed en jy besef dat jy deur die grond te versteur, dit kaal los en die biodiversiteit van dit wat onder en bo die grond lewe tot niet maak, dan begin “no-till” vir jou ‘n hartssaak word. Jy het eers tot “no-till” aanvaarding gekom as jy dit wat jy besef jy verkeerd doen, wil begin regstel. Vic Roberts het die eerste dag se lesings begin deur te vertel van wat jy alles in ‘n handvol grond gaan raaksien. As jy die dag Vic se passie oor die kleinste organisme in die grond deel, dan kan jy sê dat “no-till” vir jou ook ‘n hartsaak geword het.

O ja, ons het by die konferensie ook geleer van hoe om geenbewerking toe te pas. Ons het planter demonstrasies gesien. Ons het dekgewasproewe van Agricol saad gesien. Ons het ook geleer dat bewaringsboerdery nie net beperk is tot “no-till” planttegnieke nie, maar dat dit ook gaan oor hoe jy natuurlike weiding bestuur. Ons het ook gehoor dat die voordele van bewaringslandboupraktyke nie net tot die boer se tyd en geldbesparing uitloop nie, maar soos die begrip deurgee, gaan bewaringslandbou oor die bewaring van die natuurlike hulpbronne op jou plaas. Deur grond te bewaar, bewaar jy jou en jou nageslag se toekoms.

Planters
Weiding
Facebooktwitter

‘n Wedloop is aan die gang

‘n Wedloop is aan die gang

Op 28 Augustus het ek ‘n Absa en John Deere boeredag op Hartswater bygewoon. John Deere het met ‘n aggresiewe bemarkingsveldtog verduidelik dat hulle sakpas finansiering vir boere wil gee. Op sommige boerderytoerusting is hulle selfs bereid om prima minus 8.5% rente te gee. Dit blyk ‘n groot stap van John Deere se kant af te wees om boere in moeilike ekonomiese tye van hulp te wees.

Aan die anderkant het Absa boere moed ingepraat oor die ekonomiese vooruitsigte van landbou omdat ‘n groeiende wêreldbevolking, kos gaan nodig hê. Alhoewel daar uitdagings vir Suid-Afrikaanse boere is, bly landbou ‘n baie goeie bedryf. Veral as in aggeneem word hoe Afrika se ekonomie besig is om te groei. Wie beter om in Afrika te boer as Suid-Afrikaners wat die omstandighede ken en verstaan. Suid-Afrikaanse boere het hulself al oor en oor bewys as hardwerkend en suksesvol.

Tog wil ek hier aansluit by wat ek in ‘n vorige bloginskrywing genoem het. Tot onlangs het die Suid-Afrikaanse media berig dat daar ongeveer 36000 kommersiële boere in Suid-Afrika is. Mnr. Ernst Janovsky het my op die dag verseker dat die getal nou gekrimp het na nader aan 29000 kommersiële boere in Suid-Afrika. In die vorige bloginskrywing het ek vertel hoe die getal my laat dink oor voedselsekuriteit in die land. Hier wil ek kyk na die ekonomiese implikasies daarvan.

Vir landboumaatskappye, soos John Deere, en ook vir landboufinansierders, soos ABSA, is die spreekwoordelike ekonomiese koek aan die een kant besig om te groei en aan die anderkant besig om te krimp. Mnr. Ernst Janovsky het genoem dat landbou jaarliks sowat R180 biljoen bydra tot die land se ekonomie. Dit opsigself is ‘n bedrag waaruit enigiemand sal wil tap. My oorlede Oom Paul het genoem dat daar ‘n stroom geld in die landboubedryf vloei, jy moet net ‘n klein keerwalletjie bou om suksesvol te wees. Die landboukoek is eintlik baie groot.

Tog is die koek ook besig om te krimp. As daar elke jaar soos verlede jaar 300 melkboere uit die bedryf klim, beteken dit dat daar elke jaar minder kliënte gaan wees om te bedien. As jy nou al ‘n finansieringsproduk daar kan stel wat vir ‘n boer aanloklik is, gaan hy dit aangryp. Vir die landboumaatskappy en –finansierders beteken dit dat wanneer die boer oor 5 of 10 jaar die bedrag afbetaal het, hy ‘n klient van die maatskappy en finansierder sal bly. Vir die boere wat dit nie regkry om die produk af te betaal nie, is die huidige stygende tendens van landbougrond van so aard dat ‘n boer maklik grond sal verkoop aan ‘n groter boer en dalk sommer sy toerusting ook en dan met die totale verkoopprys, die finansierder sal kan afbetaal. Dus, min risiko vir die landboumaatskappy en -finansierder.

In die huidige landbouproduksie en bemarkingsmodel, moet boere groter gaan of uitklim. Op elke boeredag waar ek die afgelope jaar was, was die uitgangspunt dat boere moet groter gaan. Dat boere meer presies moet boer. Dat boere meer produktief moet wees om te bly voortbestaan. As landboumaatskappye soos John Deere nou die regte kliënte kan oorreed om hulle kundige produkte wat produktiwiteit en presisieboerdery ondersteun, te koop en finansierders soos ABSA help met die finansiering daarvan, gaan die maatskappye se aandeel in die landboukoek groei.

Die wedloop het begin om die kwynende hoeveelheid boere te pamperlang. Tog is dit juis die finansieringsmodel wat gemaak het dat boere al minder word. Maar dit is ‘n artikel vir later. Die wedloop het ook begin vir boere om na ‘n alternatiewe produksiemodel om te skakel, wat sal help dat die boer ‘n groter deel van die R180 biljoen van die landbousektor in sy eie sak kan steek. Myns insiens is ‘n stap in die rigting van bewaringslandbou praktyke die eerste rigting waarna boere moet begin kyk, aangesien bewarinslandboupraktyke laer insetkostes vir die boer verseker. Daar is reeds boere wat na bewaringslandbou oorgeskakel het en groot suksesse behaal het. Daarom woon ek hierdie week KZN No-till Club se bewaringslandboukonferensie by om eerstehands van die boere te hoor van hulle ondervindings.

Facebooktwitter