Elke vierkante meter tel
Sel: 0783343867

Posts Tagged earthworms

Dieselfde taal

Dieselfde taal

Ek so ‘n week of twee gelede ‘n interessante ervaring gehad. Twee mense uit Duitsland het hier by ons gastehuis ingeboek en soos ‘n mens maar is, het ek hulle begin uitvra oor wat hulle daar doen en wat hulle hier kom doen het. Groot was my verbasing to Bastian vertel dat hy besig is met ‘n PhD in volhoubare boerdery en dat hy mense help om klein groentetuintjies in klein spasies te bou.

Ons het die volgende paar dae soveel gedagtes uitgeruil en dit het gevoel asof ons mekaar al jare ken. Ek het byvoorbeeld toe ek en vroulief langs die strand sit en vakansie hou so ‘n week of twee gelede, vir haar gesê dat dit nogal vreemd is hoe, kennis oor iets basies soos voedselproduksie en groenteverbou en preservering van kos, in een generasie verlore geraak het. Van ons oupas en oumas tot nou, het ‘n inligtingsuitwissing plaasgevind. Terwyl ek en Bastian gesels het, het hy presies dit vir my gesê is wat in Duitsland besig is om te gebeur. Sy oupa het nog ‘n groentetuin gehad, maar sy pa-hulle nie. Sy oupa hulle het geweet hoe om kos vars te hou sonder yskaste en vrieskaste, sy oupa het geweet hoe om groente te laat groei sonder sintetiese chemiese bemesting en gifstowwe teen plae. Ons moet as’t ware van vooraf leer om volhoubaar kos te kan produseer. Alhoewel hy Duits praat en ek Afrikaans, het ons ook dieselfde taal gepraat.

Dit het my laat wonder in hoe ‘n mate is daar ‘n sosiale bewustheid oor ‘n komende voedselkrisis onder mense aan die opbou. Of is dit bloot dat ek en Bastian aan dieselfde tipe inligting blootgestel is aan weerskante van die aarde? Wat is die impak van sosiale media om soortvan ‘n “wêreldbrein” of “wêreldsenuweestelsel” aan die gang te sit. Of is die “wêreldbrein” of “wêreldsenuweestelsel” daar ongeag of fisiese inligting gedeel word? Of word die bewustheid bloot gedryf deur iemand wat versiende genoeg is om probleme te identifiseer en dan ander daarop te laat let? OP die ou einde deel ons een persoon se visie, lees daarvan in verskillende boeke en deel dit op allerhande maniere met mekaar?

Facebooktwitter

Wat ek by KZN No-Till Konferensie geleer het

Wat ek by KZN No-Till Konferensie geleer het
KZN No-till

Die KZN No-till Club Bewaringslandbou konferensie 2015 is van Dinsdag 1 September tot Donderdag 3 September by Drakensville ATKV oord buite Bergville gehou. Dit was my eerste keer dat ek die konferensie bygewoon het en ek hoop dat ek weer daar kan uitkom. Ek het waarskynlik so ses jaar gelede eers werklik van geenbewerking (“no-till”) gehoor en daarin begin belangstel. Dit was ongelooflik om verlede week daar by die konferensie te kon hoor van boere wat die praktyk al vir meer as twintig jaar toepas. Die gedagte wat my die meeste getref het, is hoe kan dit wees dat sommige boere al vir meer as twintig jaar die voordeel van geen bewerking oes, terwyl ander boere steeds nie daaraan as oplossing dink nie.

‘n Waarskynlike rede hoekom die vlakke van aanvaarding van geenbewerking in Suid-Afrika so laag is, het dalk te doen met die gedagte dat “no-till” nie net ‘n kopsaak is nie, maar ook ‘n hartsaak.  Elke spreker wat by die konferensie opgetree het, het nie net ‘n klomp feite vir kennisname uitgedeel nie, maar elke spreker het met oorgawe en passie gepraat van geenbewerkingspraktyke wat hulle self be-oefen en projekte waarby hulle betrokke is. By die konferensie is een of twee keer genoem dat jy nie ‘n “no-till” boer is omdat jy ‘n “no-till” planter gebruik nie. Jy is eers ‘n “no-till” boer as die feite van jou kop na jou hart begin deurwerk het in ‘n liefde vir grond en die mikro-organismes wat in die grond is. Eers wanneer jy werklik besef wat die waarde van ‘n mikroskopiese grote bakterie of die waarde van ‘n erdwurm is en jy alles in jou vermoë doen om die organismes te beskerm, dan kan jy jouself ‘n “no-till” boer noem. Die boere wat ek daar gehoor praat het, al was dit formeel op die verhoog of privaat in ‘n gesprek, het nie net ‘n liefde vir grond nie, maar hulle het ook ‘n uitgesproke onwrikbare geloof en liefde in God wat die grond geskep het. Ergon Zunckel, voorsitter van KZN No-till Club, se woorde vat dit so saam: “As a believer, I am confident that this is the closest method of crop farming to what God intended at creation” “No-till” boerdery is eerstens ‘n hartsaak en dan ‘n kopsaak.

KZN No-till6

Hoe maak jy die skuif in jou kop en dan na jou hart om geenbewerking in jou boerdery te begin toepas? Solank as wat jy grond beskou as iets wat die plante moet regop hou, solank as wat jy na sommige landbouvoorligters luister wat sê dat grond net ‘n groeimedium is en dat alles wat die plant benodig deur ‘n chemiese korrel toegevoeg kan word, solank sal jy nooit oorskakel tot geenbewerkingspraktyke nie. Eers wanneer jy begin besef dat chemie, organies en biologie saamwerk om ‘n plant te laat groei, dan begin die kopskuif kom en word “no-till” ‘n kopsaak. Wanneer jy dan verder besef dat dit wat jy met grond aanvang en hoe dit wat jy met grond doen die kleinste organisme in die grond beskadig of nadelig be-invloed en jy besef dat jy deur die grond te versteur, dit kaal los en die biodiversiteit van dit wat onder en bo die grond lewe tot niet maak, dan begin “no-till” vir jou ‘n hartssaak word. Jy het eers tot “no-till” aanvaarding gekom as jy dit wat jy besef jy verkeerd doen, wil begin regstel. Vic Roberts het die eerste dag se lesings begin deur te vertel van wat jy alles in ‘n handvol grond gaan raaksien. As jy die dag Vic se passie oor die kleinste organisme in die grond deel, dan kan jy sê dat “no-till” vir jou ook ‘n hartsaak geword het.

O ja, ons het by die konferensie ook geleer van hoe om geenbewerking toe te pas. Ons het planter demonstrasies gesien. Ons het dekgewasproewe van Agricol saad gesien. Ons het ook geleer dat bewaringsboerdery nie net beperk is tot “no-till” planttegnieke nie, maar dat dit ook gaan oor hoe jy natuurlike weiding bestuur. Ons het ook gehoor dat die voordele van bewaringslandboupraktyke nie net tot die boer se tyd en geldbesparing uitloop nie, maar soos die begrip deurgee, gaan bewaringslandbou oor die bewaring van die natuurlike hulpbronne op jou plaas. Deur grond te bewaar, bewaar jy jou en jou nageslag se toekoms.

Planters
Weiding
Facebooktwitter