Elke vierkante meter tel
Sel: 0783343867

Posts Tagged climate change

Bitterbessie Dagbreek: Uit ‘n ander hoek.

Bitterbessie Dagbreek: Uit ‘n ander hoek.

Ingrid Jonker se gedig Bitterbessie dagbreek, koggel my nou al ‘n paar dae en as ek my kom kry eggo woorde uit die gedig in my gedagtes. Dit mag vreemd wees dat ek in ‘n blog soos hierdie na Ingrid Jonker verwys, maar jy sal hopelik sien, dat gedigte vreemde afdraaipaadjies kan hê.

Dit voel deesdae asof daar ‘n groot kosmiese spieël gebreek het tussen ons en Moeder Aarde. Ons het uit voeling geraak met mekaar. Vir die van julle wat nie oplet nie, daar is ‘n klimaatsverandering op die tafel. Moeder Aarde is besig om haar klimaatspatrone te verander sonder om ons in ag te neem. Dink net as al die ys smelt, hoeveel kusdorpe en stede weg sal wees. Globale verhitting gaan ‘n uitwerking op ons koffiedrinkgewoontes hê. Mense gaan ontwortel word, baie gaan sterf as die tendens voortgaan. Moeder Aarde het haar gat gewip. Dalk wag sy op ons om met ‘n groot boks Lindt sjokolade en ‘n baie groot bos rooi rose om verskoning te kom vra, terwyl Gé Korsten se “Liefling” in die agtergrond speel.

Gmph, sal jy dalk vra, hoeveel “ons” is in jou pond? Wat het ek verkeerd gedoen? My mens, hoe uit voeling uit het jy geraak?

Die visserman is afhanklik van vis in die see, maar visspesies sterf uit. Net verlede jaar vertel iemand my by Ashton Baai hoe hulle destyds kabeljou van die strand af gevang het. Nie meer nie. Ek kan self bevestig dat ek as st. 5 seuntjie my eerste “seevis” (ook ‘n kabeljou) daar gevang het, al was dit met ‘n karpstok wat nie verder as die derde brander kon gooi nie. Behalwe die uitwissing van visspesies, hoeveel besoedeling beland nie in die see nie?

Renosters word uitgemoor as gevolg van mense se voortplantingsdrange.

Ons Vaalrivier stelsel: Die Vaalrivier is nie meer vaal nie, hy is so mismoedige groen kleur. Ons gebruik die Vaalrivier se water vir drinkwater en om kos te verbou, maar terselfdertyd beland riool en mynbouafvalwater onbehandeld daarin.

Ek ry vandag tussen Hartswater en Bloemfontein. Die lande lê soos elke jaar skoon gewerk. Plek-plek kon ek massiewe groot trekkers sien wat die grond wat nie reeds bewerk is nie, omdolwe. Die mielies wat hier en daar reeds opgekom het, moet koes vir die sandstof wat daarteen aanwaai. Waai sand, terwyl nat kolle op en langs die pad te sien is van ‘n onlangse bui reën wat geval het?

Nêrens in 250km kom een land voor waar geenbewerking toegepas word nie.

Hoe lyk lugbesoedeling bo ons stede? Wat van die plaasgemeenskap waar jy is. Sekere tye van die jaar word insek- en plaagbestryding so erg gedoen, dat jy dit in die lug kan ruik. Die gifstowwe werk nie selektief nie, bye word nadelig ge-affekteer. Wat van ander voordelige organismes soos erdwurms wat uit landbougrond verdwyn? Fabrieksboerderye besoedel ondergrondse water.

Kyk na ou stede uit die Bybelse tyd se ruïnes wat nou binne in woestyne te vind is. Die mense het mos nie destyds besluit om in die dorre woestyn te gaan vestig nie. Mense het nog altyd stede naby kos en water gevestig. Het woestyne nie ontstaan as gevolg van menslike aktiwiteite wat die grond en water uitgeput het nie.

Miskien het die spieël al lankal gebreek en het Moeder Aarde net nou tot haar einde gekom en gesê, genoeg is genoeg. Is ons generasie die laaste generasie wat ‘n waarskuwing hoor en dink dis net ‘n eggo uit die verlede, ‘n eggo wat geen antwoord gee nie?

Is ons besig om onsself te kierang en te dink alles bly op die ou einde tog maar net dieselfde? Miskien moet ons ‘n verhoudingspesialis gaan raadpleeg wat kan help om hierdie wederkerige koudheid reg te stel. Raak betrokke by bewaringsinisiatiewe, plant jou eie groente in jou tuin aan, installeer ‘n sonkrag geyser of koop net ‘n kar wat ligter is op brandstof.

Is Vader Tyd besig om ons in te haal of kan ons Moeder Aarde se hart weer sag maak? Gaan ons eendag saam met ons kleinkinders kan sit en kyk hoe kom die son op sonder dat daar ‘n bitter smaak in ons monde kom? Dalk is Moeder Aarde se vergifnis net so ver as wat jy en ek gewillig is om ons deel by te dra?

BITTERBESSIE DAGBREEK
(Deur Ingrid Jonker)
1933-1965

Bitterbessie dagbreek
bitterbessie son
‘n spieël het gebreek
tussen my en hom

Soek ek na die grootpad
om daarlangs te draf
oral draai die paadjies
van sy woorde af

Dennebos herinnering
dennebos vergeet
het ek ook verdwaal
trap ek in my leed

papegaai-bont eggo
kierang kierang my
totdat ek bedroë
weer die koggel kry

Eggo is geen antwoord
antwoord hy alom
bitterbessie dagbreek
bitterbessie son

Facebooktwitter