Hierdie bladsy is bygevoeg, aangesien Erdwurmboer heelwat navraag per e-pos ontvang oor erdwurmboerdery en die gebruik van beesmis. Beesmis is vir melkerye en voerkrale ‘n groot kopseer. Erdwurmboerdery bied ‘n oplossing om waarde by hierdie rou organiese stof toe te voeg.
By Erdwurmboer word tans gebruik gemaak van “vars” nat beesmis wat uit die buurman se beeskrale geskep word. Een persoon het oor hierdie bewering dat nat beesmis gebruik kan word navraag gedoen en het skepties daaroor geklink. Die idee is om die nat beesmis in ‘n dun lagie (+-25mm-50mm) oor die bestaande erdwurmkooigoed te “smeer”. As die beesmis te dik aangewend word, kan die beesmis tydens die komposteringsproses te warm word en dan die erdwurms laat “kook” (soos die genoemde persoon gesê het).
‘n Ander metode om beesmis te gebruik, is om droë beesmiskoeke op te tel en die miskoeke dan in water te laat week. Wanneer die koeke deurnat is, word die koeke uit die water gehaal en dan vir ‘n minuut of wat laat lê sodat oortollige water uitdreineer. Die miskoek word dan in die erdwurmhouer geplaas. Binne ‘n dag of twee behoort die wurms in die miskoeke in te beweeg.
Indien die eersgenoemde metode met die laasgenoemde metode vergelyk word, het Erdwurmboer ondervind dat die erdwurms vinniger in die “vars” beesmis inbeweeg en dat die erdwurms ook vinniger aanteel met die gebruik van vars beesmis. Die rede hiervoor is nog nie duidelik nie.
Indien iemand ondervinding het van die gebruik van beesmis vir erdwurmkompos, kan hy/sy gerus kontak maak met Erdwurmboer of self kommentaar lewer deur te registreer by Erdwurmboer.



