Die verskil tussen erdwurmboerdery en erdwurmkompostering lê daarin dat die eindprodukte van die twee fasette verskil. Waar dit by erdwurmboerdery gaan oor die vermeerdering van erdwurms, gaan dit by erdwurmkompostering oor die vermeerdering van kompos. Alhoewel ‘n klein erdwurmboerderytjie in die agterplaas ook kompos lewer en die kompos genoeg is vir die klein groentetuintjie en paar potplante in die huis, betree jy met die gedagte van erdwurmkompostering ‘n grooter skaal van erdwurmboerdery! Kyk ook na ‘n paar kompostering idees wat Erdwurmboer al probeer het!
Om die gedagte van klein en grootskaalse erdwurmboerdery in perspektief te plaas: Daar is erdwurmkomposterings aanlegte wat gemiddeld 15 ton kompos per maand produseer. Op Dundee is ’n erdwurmboer wat sy buurman se melkery (van 1000 beeste per dag) se beesmis met erdwurms verwerk tot kompos.
Wanneer erdwurmkompos op groot skaal geproduseer word, verg dit ‘n ander benadering as erdwurmboerdery. Erdwurmkompostering is ‘n deurlopende proses. Een manier om te verduidelik hoe die proses werk is as volg: organiese materiaal word aan die voorkant bygevoeg terwyl kompos van agter af ge-oes word. Afhangende van hoe groot of hoe klein jou erdwurm kompostering “aanleg” moet wees, moet daar deurentyd gesoek word na geskikte organiese materiaal om die proses aan die gang te hou. Geskikte organiese materiaal sluit in: vrugte -en groenteskille, blare gras, pensmis, kompos, bees-, vark-, perd-, konynemis. Pasop egter vir ontwurmingsmedisyne wat in die mis van diere teenwoordig mag wees.







Hi Jannie,
Ek het nou die dag my wurms opgebreek en van een houer na twee houers geskuif. Ek het hulle in die winter in direkte son gesit. Wel drie dae nadat ek dit gedoen het, het ek gesien die wurms peul aan die onderkant by gaatjies in die drom uit. Wat ek ondersoek instel sal ek sien dat 90% in die een drom alreeds dood is.
Toe ek my hand insteek in die ‘kos’ toe kom ek agter dat hulle houer te warm kon gewees het in die warm somer son. Die kompos is nie self warm nie, dit is definitief die son wat dit warm gemaak het.
Kan dit die oorsaak wees? Wat is die ideale temperatuur vir hulle om in te leef?
Baie hartseer oor my wurmpies wat ek verloor het. Hulle staan nou weer in een houer onder ‘n boom.
Hoor graag van jou.
Koot
Koot,
Erdwurms hou van vog en hitte, maar nie te veel hitte nie. In Suid-Afrika het ons in die winter ‘n gebrek aan hitte en in die somer gewoonlik te veel daarvan. ‘n Reël wat ek gewoonlik toepas is: plaas jou wurmhouer onder ‘n bladwisselende boom. In die winter kan die houer met behulp van die direkte son hitte opbou en in die somer keer die blare die direkte son af en help dit om die houer koel te hou.
‘n Ander rede wat kan veroorsaak dat die wurms uitkomplek soek, is te min suurstof in die houer. Maak seker dat dara genoeg ventilasiegate is om voldoende lug deur te laat. Onthou wurms is nes mense, hulle soek kos, water en suurstof om van te lewe.
Ek hoop die inligting help.
gaaf