So maak jy erdwurmkompostee

Daar is verskillende kompostee benaderings. Hieronder volg een benadering oor hoe om kompostee te produseer.

Stap 1

Neem ‘n stuk materiaal met fyn gaatjies, bv. ‘n sykous.

Stap 2

Vul die sykous met ‘n paar hande vol erdwurmkompos.

Stap 3

Plaas gevulde sykous in ‘n 20liter emmer. Maak die een punt van die sykous aan die emmer se handvatsel vas.

Stap 4

Maak emmer vol water.

Stap 5

Gebruik ‘n akwariumpompie om lug deur die water te borrel. Die lugpompie is te koop by enige troeteldier winkel.

Stap 6

Plaas die lugpypies van die akwariumpompie binne-in die emmer met water.

Stap 7

Skakel die akwariumpompie aan en laat die lug deur die water vir 36 tot 48 uur.

Die erdwurmtee word dus “gebrou” in die periode van 48 uur. Wanneer die akwariumpompie na 48 uur afgeskakel word, moet die erdwurmtee so vinnig as moontlik op plante toegedien word met behulp van ‘n hand- of rugsakspuit.

Die rede hoekom lug deur die water geborrel word, is om die mikrobes wat in die erdwurmkompos teenwoordig is, met behulp van die suurstof binne-in die borrels vinnig in die water te laat vermeerder.

Indien die pompie afgeskakel sou word, sal die mikrobes die suurstof opgebruik en vrek en die water kan giftig raak. Daarom is dit noodsaaklik om die erdwurmkompostee so vinnig as moontlik na die borrelproses op plante toe te dien.

Let op: Hierdie is ‘n selfdoen benadering ten opsigte van kompostee produksie wat suksesvol deur Erdwurmboer gebruik word. Erdwurmboer kan nie aanspreeklik gehou word indien daar iets in jou kompostee produksie verkeerd loop en nadelige gevolge op jou gesaaides het nie. Die gehalte van die kompostee hang ook af van die gehalte van die kompos wat gebruik word.

Kommersiƫle kompostee brouers is in die mark beskikbaar, bv. Ecosoil (http://www.ecosoil.co.za/contact.php) By Ecosoil kan verskillende grootte brouers verkry word vir verskillende grootte oppervlak gesaaides.

Leave a Reply