Elke vierkante meter tel
Sel: 0783343867

Jou voedselsekerheid op die spel

Agri Noord-Kaap kongres

Ek was bevoorreg om 19 en 20 Augustus 2015 Agri Noord-Kaap se 36ste kongres in Kimberley by te woon. By die kongres het bekende sprekers opgetree. Kongresgangers het deurentyd by die sprekers gehoor dat landbou, volgens alle grafieke wat voorgehou is, een van die belangrikste ekonomiese sektore in Suid-Afrika is. Om in die landbou betrokke te wees, is vanuit ‘n besigheidsoogpunt vir die groep sprekers ‘n baie goeie besigheidsbesluit. Veral as daar gekyk word na die wêreld se bevolkingsgroei en die mens se primêre behoeftes, waarvan kos een is. Elke boer wat kos produseer help om voedselsekerheid te verseker en boere het ‘n groeiende marksegment.

Alhoewel ek hier wegspring met die positiewe kant van sake wat landbou in Suid-Afrika betref, is daar ook die negatiewe kant wat deur al die sprekers uitgewys is. Landbou het ‘n positiewe uitsig in Suid-Afrika, mits die regering die land se infrastruktuur instand hou. Mits die land se beskikbare water nie deur mynbou en gedane munisipale rioolstelsels besoedel word nie. Mits minimumlone nie drasties verhoog nie. Mits globale klimaatsverandering nie ‘n te groot uitwerking op Suid-Afrika se klimaat en reënvalpatrone het nie. Mits ons nie ‘n jaar of twee of selfs drie ernstige droogtes beleef nie. Dit is in kort wat ek uit agt baie bekwame sprekers se monde gehoor het.

Een “mits” wat egter by my vasgesteek het (en nie almal het die “mits” gehoor nie) was die feit dat daar tans ongeveer 30,000 kommersiële boere in Suid-Afrika is. Hierdie getal spook al ‘n geruime tyd by my en toe ek dit weer hoor, het ek gewonder hoeveel ander kongresgangers (en selfs die spreker self) het al mooi die sommetjie gemaak van wat hierdie getal van 30,000 kommersiële boere werklik vir ons sê.

Wat my so bewus maak van die getal boere, is die feit dat daar in ons plaaslike boerevereniging se notule van 1952 staan dat daar in 1952 ongeveer 40,000 boere in die destydse Kaapland was. Een van die vier provinsies van Suid-Afrika het in daardie dae meer kommersiële boere as die hele Suid-Afrika vandag gehad. Hoeveel boere in die hele land in 1952 was, kon ek nie vasstel nie, maar die boere wat wel daar was, moes net genoeg kos vir ongeveer 13 miljoen mense produseer.

Besef jy dat Suid-Afrika se ongeveer 50 miljoen inwoners se voedselsekerheid in die hande van 30,000 boere rus?  Wat gaan gebeur as die 30,000 boere of selfs net ‘n gedeelte van hulle eensklaps hul grond sou verloor as gevolg van droogte, vloede, bankrotskap, peste en plae of  grondhervorming? Waar gaan 50 miljoen mense kos kry? Verder word vrugbare landbougrond jaarliks teen ‘n onheilspellende spoed minder weens onderandere erosie, verstedeliking en besoedeling. Wat nog meer kommerwekkend is, is die volgende syfer wat op die kongres genoem is, naamlik dat 80% (jy het reg gelees TAGTIG PERSENT) van Suid-Afrika se landbouprodukte deur slegs 8,000 sogenaamde “makrop boere” (jy het reg gelees AGT DUISEND BOERE) geproduseer word. Is ons voedselsekerheid nie eerder in die hande van 8,000 boere nie? Die kundigheid wat die boere het, mag nie verlore gaan nie.

Ek is van mening dat hedendaagse “konvensionele boerdery praktyke” die hoofrede is dat daar tans net 30,000 kommersiële boere in Suid-Afrika oor is. Al manier hoe boere dit kan regkry om stygende diesel, gif en kunsmispryse die hoof te bied, is met behulp van “die ekonomie van skaal.” Sodoende het die boer wat die beste met sy geld kon werk en dalk ‘n bui reën meer as sy buurman gekry het, dit reggekry om sy buurman uit te koop. Ja, daar was ekonomiese en politieke onsekerhede wat party boere eerder laat besluit het om te verkoop, maar tog het daar oor die afgelope sestig jaar ‘n tipiese “survival of the fittest” scenario afgespeel. As dit wel so is dat slegs 8,000 boere 80% van die land se landbouprodukte produseer, gaan daar oor 50 jaar van nou af, waarskynlik net 8,000 boere in die land oor wees.

Tog is ons grootste probleem nie die feit dat slegs 30,000 boere ons voedselsekerheid in hulle hande hou nie. Ons probleem is dat 50 miljoen mense nie meer weet dat jy ‘n saad in die grond kan plant en dit vir jou kos kan gee nie. Ons probleem is dat daar vandag 50 miljoen mense is wat nie weet dat jy sonder kunsmis en gif vir jou kos kan produseer nie. As gevolg van die “kommersiële boerdery model” is ons geskool om te dink dat jy kos op grootskaal moet verbou om dit koste effektief te produseer. Dit blyk goedkoper te wees om jou kos te koop, as om dit self te produseer.

Die 30,000 boere wat daar tans is, het die voedselproduksie in die land gesentraliseer. Die sentralisering van voedsel verhoog die rakprys van kos wat uiteindelik op mense se tafels beland. Die kosverlies van die boer se land tot by die tafel, is ‘n ander saak. Ek het die ander dag ons plaaslike Checkers gaan vra hoe ek aan hulle groente kan verskaf. Maklik, was die antwoord, jy lewer aan ‘n maatskappy wat in Bloemfontein (250km hiervandaan) geleë is, dan herverpak hulle die produkte en stuur dit na ons toe (weer 250km)… Dus is dit nie net ons voedselproduksiemodel wat ‘n probleem is nie, maar ook ons voedselbemarkingsmodel wat probleme het.

In die tussentyd word mense al verder van hulle voedselbron verwyder en uiteindelik van die grond onder hulle voete en verloor hulle sodoende kontak met dit wat die nodigste is vir ons voortbestaan op aarde en in Suid-Afrika. Die oplossing vir ons probleem in Suid-Afrika, is ‘n herwaardering vir die een vierkante meter wat jy onder jou voete het waarop jy kan kos produseer.

As daar een ding is wat Agri Noord-Kaap se 36ste Kongres my geleer het, is dat daar nie tyd vir doekies omdraai is nie. Hier kom ‘n voedseltekort in Suid-Afrika. Ek kan nie op 30,000 boere (of is dit 8,000 boere) vertrou om my kos te bly produseer nie. Ek wil weer ten minste probeer om selfonderhoudend te wees. My blomtuin gaan plek maak vir ‘n groentetuin. Ek glo die uitkoms vir Suid-Afrika vir ‘n naderende voedseltekort lê in mikroboerderye, gemeenskapsboerderye en boeremarkte.

Facebooktwitter
1 Comment