Elke vierkante meter tel
Sel: 0783343867

Hoekom ek uit die plaaslike landbou unie bedank het

Ek het besluit om Dinsdag 16 Februarie 2016 as addisionele lid op ons plaaslike landbou unie se bestuur te bedank. Die posisie se naam klink dalk iets besonders, maar dit is nie. Dit is eintlik net ‘n titel wat al jare lank kom en eintlik kan die bestuur sonder die hulp van ‘n addisionele lid klaarkom. Dit was nie asof ek nodig was om geken te word in sake nie en van my kant af kon ek ook nie nuwe sake of relevante sake op die agenda plaas nie.

Ek het ook die voorreg gehad om op die bestuur te dien in die posisie grondbewaring en die afgelope twee maande waterbewaring. Toe ek gekies is om sake rakende grondbewaring te hanteer, was ek reeds sowat vier jaar aan die gang met hierdie webblad en ek het die geleentheid aangegryp aangesien ek op daardie stadium besef het dat ek die posisie in die plaaslike landbou unie kan gebruik om inligting rakende grondbewaring en bewaringslandboupraktyke aan medeboere oor te dra. Gedurende my spreekbeurte op die vergaderings het ek alles gedoen wat ek kon om bewaringslandboupraktyke onder die aandag van ander boereverenigingsvoorsitters te bring. In die hoop dat hulle dit sou deurgee na hulle onderskeie verenigings. Hoeveel inligting deurgegee is, bly egter ‘n ope vraag.

In die tyd wat ek in die landbou unie betrokke was, het ek en ‘n paar vriende met die hulp van Dr. Hendrik Smith (Bewaringslandbou fasiliteerder van GraanSA) Vaalharts Bewaringslandbou Studiegroep op die been gebring. Dit het my in die verdere voordelige posisie geplaas om inligting wat ons in die studiegroep versamel het, op die landbou unie vergaderings deur te gee.

My frustrasie in die landbou unie het ses maande gelede begin toeneem toe ek agterkom dat inligting wat ek deurgee, nie by boere op die grond uitkom nie. Ek het ook agtergekom dat die inligting wat ek deurgee, deur landboumaatskappye afgemaak word as sommer net ouvrou stories. So het ek ses maande gelede uit frustrasie op die landbou unie vir die teenwoordiges genoem dat landboumaatskappye (die destydse landbou ko-operasies) die grootste struikelblok vir bewaringslandbou in ons omgewing is. Ek het ook genoem dat Vaalharts Bewaringslandbou Studiegroep ‘n Bewaringslandbou Simposium beplan vir Februarie 2016 en ek wil vra dat landbou unie lede die dag sou bywoon om te sien dat die inligting wat ek versprei, nie ouvrou stories is nie en om te sien dat bewaringslandboupraktyke geld in die boer se sak terugsit en dat geld nie net in die sakke van landboumaatskappye gestort hoef te word nie.

Op die dag van die simposium het honderd mense opgedaag. Ironies was daar slegs ongeveer 10 boere uit die landbou unie van 250 boere. Nie eers die landbou unie voorsitter het homself verwerdig om op te daag nie. Inteendeel, iewers deur die dag het ek ‘n oproep van hom ontvang – hy het waarskynlik vergeet van die simposium – en ek het terwyl ek na Prof. Wijnand Swart se aanbieding geluister het, die foon doodgedruk.

Wat frustrasies vererger het, was uit my portefeulje waterbewaring. Pas nadat ek in die posisie plek ingeneem het, het ek ‘n vergadering bygewoon oor die opgradering van die Vaalharts Besproeiingskema se infrastruktuur. By die vergadering wat al oor die afgelope 5 jaar bymekaarkom, is daar geen verteenwoordiger van die kommersiële boere nie. Besluite word op die vergaderings geneem waarvan elke boer behoort te hoor, maar die inligting van daar word nie deurgegee na boere nie. Ek het toe begin wonder oor die inligtingsblok op die unie oor bewaringslandbou en of is my opmerking oor landboumaatskappye geregverdig. Lê die fout nie dalk by ‘n oneffektiewe landbou unie bestuur nie? Ek het ook vanuit my posisie na Agri Noord-Kaap uitgereik, maar niemand vandaar kontak my terug nie. Ek weet ek trap op tone, maar wat staan my te doen?

Toe ek Dinsdag bedank het, het ek vir die landbou unie dit duidelik gestel dat daar probleme op die Vaalrivierstelsel is. Water word deur boere gesteel, maar niemand lig ‘n hand om dit te keer nie. Riool val in die rivier, maar niemand doen iets daaromtrent nie. Mynafvalwater val in die rivier. Niemand doen iets daaromtrent nie. Die kanaalstelsel in Vaalharts gaan agteruit en boere help die agteruitgang aan, deur hulle konvensionele landboupraktyke. Daar is in 2006 ‘n rekonsiliasie verslag op die Vaalrivier gedoen en volgens die verslag, gaan die Vaalrivier in 2020 te min water begin hê vir al die ekonomiese- en landbouaktiwiteite langs die rivier. Ons boere het eers verlede jaar by ‘n manne ontbyt toevallig daarvan gehoor toe Prof. Kobus van der Walt daarna verwys het. Hoekom kom inligting nie by boere uit nie? As die inligting destyds deurgekom het, sou dit dalk makliker wees om boere van bewaringslandbou te oortuig? Ek weet nie.

Hierdie inligting het ook nie by ons plaaslike Departement van Landbou uitgekom, voordat ek dit vir hulle deurgegee het, nie. Sedert Dinsdag het daar blykbaar ‘n paar wiele by Vaalharts Water en die Departement Waterwese begin draai, of dit gaan bly draai, weet ek nie. As ek kyk na die uitdagings wat hierdie jaar se droogte aan boere, die publiek en ons regering stel, dink ek die wiele het ietwat te laat begin draai. Ek hoop dat ek verkeerd is.

Die inligting wat ek in vergaderings aan boere deurgegee het, gaan ek van nou af op hierdie blog deurgee in die hoop dat iemand dit raaklees wat kan help dat munisipaliteite langs die Vaalrivier hulle werk begin doen. In die hoop dat myne wat hul afval water in die Vaalrivier laat beland, daarmee werk sal maak. In die hoop dat iemand in die regering sal agterkom dat voedselsekerheid op die spel is en iets daaraan sal begin doen. In die hoop dat mense wat betrokke is by die opgradering van die Vaalharts Besproeiingskema  die beplanning sal bespoedig, want dit is nie net die boere wat daaronder gaan ly nie, maar ook elke mens wat hier woon en werk en ook elkeen wat afhanklik is van voedsel of produkte wat hier geproduseer word.

Volgens ekonome is daar min probleme in ons land en het ons nie veel om oor bekommerd te wees nie. Wat my wel bekommer, is dat selfs die slimste ekonome nie sonder water en voedsel sal kan leef nie. Die rykes sal dalk vir ‘n rukkie langer kos in hulle spense hê, maar dit is die mense hier waar die “tyre die teer tref” wat die effek van die aanhoudende waterbesoedeling en grondvernietiging eerste gaan aanvoel. Ek hoop weereens dat ek hieroor verkeerd is. Maar om te begin praat as dit te laat is, gaan nie help nie. As daar nou ore is wat begin hoor, kan moontlike lewensbedreigende krisisse vrygespring word.

Die dae van landbou unies is uitgedien. Of ten minste die vorm waarin vergaderings en kongresse vandag aangebied word. Op die afgelope 2015 Agri Noord-Kaap kongres was al die sprekers eintlik aan ‘n landbou – of finansiële maatskappy verbind wat boere moed ingepraat het oor die goeie finansiële vooruitsigte en wat klem geplaas het op boere se “kommersiële” status. Daar was een boer wat namens ‘n vereniging gepraat het oor probleme wat boere in die gesig staar.

Voor 1994 was boereverenigings soort van ‘n ekstensie van staatsdepartemente. Byvoorbeeld het boere in ‘n kommandostelsel gehelp met landelike veiligheid. Sedert die kommando’s afgeskaf is, is daar ‘n leemte wat duidelik te sien is uit al die plaasaanvalle die afgelope jare. Boere ry heeldag in die distrik rond en kon sien as paaie agteruitgaan en hulle kon die nodige regeringsamptenare in kennis stel. Sedert die samewerking tussen boere en staatsdepartemente op ‘n amper vyandige vlak gestel is, het landbou-unies en boereverenigings probeer aangaan soos in die ou dae. Daardie dae is verby. Die samestelling en werking van die unies en verenigings moet hersien word, maar boere is te geset in hul weë. Boere moet gaan sit en kyk hoe hulle selfbeeld en die beeld wat ander oor hulle het, verskil en die verskil op ‘n strategiese wyse gaan regstel. Sodoende sal boere en regering weer ‘n kans staan om saam te werk en die een die ander se noodsaaklkheid sien.

Verder het ek dit deur die jare baie duidelik gemaak dat ek die kleinste boer in Vaalharts is. Met een hektaar landbou grond en ‘n gastehuis. Dit wat ek op die hektaar reggekry het en die klein “proewe” wat ek gedoen het, het ‘n paar boere be-indruk en hulle het op kommersiële skaal oorgeskakel na bewaringslandbou.  Ongelukkig is dit skaars een persent van boere op Vaalharts. Toe ek op die watervergadering prata vanuit die voordele van bewaringslandbou en die opgradering van Vaalharts besproeiingskema, is ek in die notule aangehaal as ‘n “kommersiële boer” wat ek nie is nie. Dit het my laat besef dat ek nie namens kommersiële boere kan praat nie – kommersiële boere wat raad oor bewaringsalndbou in die wind slaan en kommersiële boere wat dink omdat ek ‘n klein boer is, baie tyd op hande het en hulle werk vir hulle kan doen.

Wat lekker van Vaalharts Bewaringslandbou Studiegroep is, is dat dit nie aan ‘n formele ge-organiseerde landbou struktuur gebind is nie en ons kan inligting bymekaarmaak en versprei soos ons wil. Dit is waar ek vir die volgende paar jaar gaan besig wees. Wie weet dalk kan ons ‘n verandering te weeg bring.

Facebooktwitter
1 Comment