Elke vierkante meter tel
Sel: 0783343867

Groentetuin Klub

Ek het onlangs daaraan begin dink om Erdwurmboer se leuse te verander na “Red die planeet een vierkante meter op ‘n slag” Die rede hiervoor gaan hoofsaaklik oor dit wat ek in ‘n ander Artikel geskryf het. Ek het sederdien al hoe meer begin wonder oor hierdie leuse. Ek het maar net 20000 vierkante meter (2ha)  onder my direkte toesig, hoe kan ek die aarde wil red? Nadat ek het ‘n tyd gelede met Martelize Brink op RSG oor erdwurmboerdery gesels het (ek is nie goed met onvoorbereide mondelings nie en die senuwees het geknaag…), het ’n antwoord begin kristaliseer. Die antwoord is nie na aanleiding van iets wat Martelize gesê of gevra het nie, maar eerder die reaksie wat ek na die tyd op veral my sosiale media platvorms gesien het. Hier volg ‘n brawe antwoord op hoe ek dink dit moontlik is om die aarde en sy bevolking een vierkante meter op ‘n slag te red.

Eers die slegte nuus

Huidig is jy een van 7 biljoen mense op aarde. Die wêreldbevolking het die eerste keer in die vroeë 1800’s verby 1 biljoen kerf beweeg. In 1960 verby 3 biljoen. Vandag groei die wêreldbevolking met 1 biljoen elke 11 jaar. Teen die huidige groeikoers behoort die wêreldbevolking teen die jaar 2074  te verdubbel na 14 biljoen mense. (http://www.sustainablescale.org/areasofconcern/population/populationandscale/quickfacts.aspx)

Om die groeiende wêreldbevolking van kos te voorsien, is grond nodig. Net ‘n klein gedeelte van die aarde se bo-grond is geskik vir die verbouing van kos.

 Die beskikbare grond is besig om teen ‘n ontstellende spoed te verminder as gevolg van ‘n verskeidenheid redes. (http://www.globalchange.umich.edu/globalchange2/current/lectures/land_deg/land_deg.html) Hier volg ‘n paar grondstatistieke:

  • In Suid-Afrika gaan 300-400 miljoen ton grond jaarliks verlore. Dit is gelykstaande aan 3 ton grond per hektaar per jaar.
  • Vir elke ton graan wat geproduseer word, gaan 20 ton bogrond verlore
  • 5-7 miljoen hektaar produktiewe grond gaan jaarliks wêreldwyd verlore as gevolg van erosie
  • Hierteenoor word grond gevorm teen ‘n skrale 0.0001 en 0.5 mm per jaar!

Ons staar ‘n probleem in die gesig: Ons het meer kos nodig om meer mense kos te gee en ons het ter selfdertyd al minder grond om die kos in te produseer.  Geen grond, geen kos!

Kan ek hierdie tendens regstel? Kan ek die aarde en sy bevolking red?

Nou die goeie nuus:

Volgens Mel Bartholomew, outeur van All New Square Foot Gardening, sal 1m² ‘n volwasse persoon genoeg verskaf om elke dag ‘n slaai te kan maak. 2m² sal hom ook daagliks van groente voorsien en 3m² sal die persoon te veel laat produseer en sal die persoon een of ander manier van preservering moet vind of oortollige groente aan ander moet uitdeel. Hierdie aanname van Bartholomew is meer as net ‘n teorie. Die afgelope paar seisoene het ek en Vroulief die Square Foot Gardening metode gevolg en dit het gewerk. In die paar vierkante meter (op ‘n stadium was dit 6 vierkante meter wat ons groente geplant het), kon ons meer verbou as wat ons self kon opeet.

Alhoewel die Bartholomew met “raised beds” sy groentetuine uitlê en dan ‘n mengsel kompos, veen en vermiculite as groeimedium gebruik, het ons agtergekom plante groei (by ons) beter in grond. Ons het begin kyk hoe ons die grond kan opbou, sodat ons dieselfde voordele as wat Bartholomew uit sy raised beds, in die grond kan kry. Die belangrikste punt waarby ons uitgekom het, was om soos die boere wat minimum bewerking (of no-till) praktyke gebruik, in ons groentetuine te gebruik. Dit behels dat grond nie omgespit word nie – JA JY HET REG GELEES – geen spitwerk. Die grond word met een of ander deklaag of “mulching” wat bestaan uit houtskerwe, gras, blare, pekanneutdoppe, selfs koerantpapier of wat ookal organies ons in die hande kan kry, bedek. (Die afgelope winter het ek ook begin eksperimenteer met dekgewasse. Teen planttyd word bloot net ‘n gat/gaatjie in die deklaag gemaak waarin die saad gesaai of plantjies geplant word. Die deklaag help dat vuilgoed nie opkom nie en dat grondvog bewaar word. Deur nie die grond te versteur nie, word verder gehelp dat onkruidsaad nie ontkiem nie. Sodoende word grond bewaar en opgebou. Erdwurms begin weer in jou grond nes te skrop.  (Meer hieroor in ‘n volgende artikel.)

Die uitdaging:

Ons is tans ongeveer 50 miljoen mense in Suid-Afrika. Om 50 miljoen mense van ‘n daaglikse porsie groente te voorsien, het ons dus volgens Bartholomew 150 miljoen vierkante meter groentetuine nodig. Dit is rofweg gelyk aan 15000 ha. Ek is seker dat elke huiseienaar iewers op sy erf 3 vierkante meter per inwoner van sy/haar huishouding het om groente te plant! Dus, as julle ‘n gesin van 5 mense het, het julle 15 vierkante meter nodig. Dit is gelyk aan 15 meter x 1 meter bedding. Maar laat ek myself nie vooruithardloop nie.

Ek wil jou uitdaag om net een vierkante meter per persoon in jou huishouding op ‘n geen bewerking metode te begin bewaar. Ons sal in die volgende paar weke stap vir stap te werk gaan oor hoe om jou grond op te bou.

Hierdie skrywe is vir nou eers ‘n uitnodiging of eerder ‘n uitdaging aan jou en elke Suid-Afrikaner om sy/haar hand op te steek en te sê: Ek wil ‘n verskil aan my tuin/landbou grond maak en sodoende die aarde en sy bevolking een vierkante meter op ‘n slag red! As jy jou hand wil opsteek – sluit aan by Erdwurmboer Groentetuin Klub. Die aansluitingsfooi is dat jy ten minste 1 vierkante meter van jou tuin/plaas/balkon/stoep gebruik om groente te verbou! Jou jaarlikse lidmaatskapgeld is jou terugvoer oor jou sukses en mislukkings en dat jy dit wat jy produseer eet en dit wat te veel is, vir iemand sal gee om te eet.

Facebooktwitter