Om erdwurmboerdery reg te benader moet jy iets van erdwurms weet. Baie mense dink dat jy in die tuin kan gaan spit en dan daardie erdwurms wat jy uit die grond haal in ‘n drom kan gooi en begin erdwurms boer. Dit is ongelukkig nie so maklik nie.
Daar is verskillende soorte erdwurms wat verskillende funksies het. Daar is al 7254 verskillende erdwurmspesies ge-identifiseer en die getal groei steeds. Die spesies kan in drie groepe ingedeel word op grond van hulle eetgewoontes en hulle woel patrone, nl. Epigeic, Endogeic en Anecic.
Epigeic erdwurms is die erdwurms waarna jy opsoek is as jy ‘n erdwurmplaas wil begin en/of erdwurmkompos wil produseer. Hierdie erdwurms word ook afval bewoners genoem. Hulle leef veral in die organiese materiaal bo-op die grond, maar sal van tyd tot tyd binne die boonste paar sentimeter van die bo-grond indring en sodoende die aflos stokkie van hulle goeie werk oordra aan die Endogeic spesies.
Endogeic erdwurms leef dieper in die grond en grawe horisontale vertakkende tonnels onder die grond en versprei sodoende al die goeie organismes. Hulle neem langer om hulle volle lengte en massa te bereik en leef op die grond en organiese materiaal binne in die grond. Daarom speel hulle nie ‘n belangrike rol in die ontbindingsproses van organiese materiaal nie. Endogeic erdwurms speel ‘n belangrike rol in grond vermenging en – belugting.
Aneic erdwurms leef in vertikale tonnels wat selfs meters diep in die grond kan ingaan. Hierdie erdwurms is buitengewoon groot as volwassenes en reproduseer baie stadig. Hulle help met die ontbindingsproses van organiese materiaal, grondformasie en nutriente siklus.



