Elke vierkante meter tel
Sel: 0783343867

Beplan jou een vierkante meter groentetuin

Na alle waarskynlikheid gaan ons hierdie jaar ‘n vroeë lente/somer beleef. Nie dat ek die weer voorspel nie, want jy kan maklik verkeerd wees, maar dit is die gevoel wat die meeste mense het, veral as ek sien hoe daar in die tuine gewoel en gewerskaf word!

Wat die groentetuinklub betref, nooi ek almal uit om deel te word van ‘n poging om die ongelooflike groot druk wat daar tans op die planeet uitgeoefen word om mense van kos te voorsien, te verlig. Het jy al een vierkante meter in jou tuin of op jou stoep of jou balkon gaan uitmeet? Weet jy hoe groot ‘n vierkante meter werklik is?

Ek het begin deur vier, een meter lengte stukke plank te vat en aan mekaar vas te maak. Toe het ek gaan meet en pas. Kyk wat het ek raakgesien. Dalk sal dit jou help om te beplan waar jou groentetuin gaan wees en hoe dit gaan lyk. .

Hier het ek 9 plastiekbakkke geneem en in die vierkante meter ingepas. Ja, jy kan groente ook in houers plant. As jy dalk op die tweede of derde verdieping in ‘n woonstel bly, kan daar op jou balkon spasie wees vir ‘n groenteplant of twee.

Hier sien jy dat as jy die 9 plastiekbakke uit die vierkante meter haal en herrangskik, kan jy jou groentetuin anders laat lyk.

Ou buitebande lê die wêreld vol. Hier gaan ek die bande gebruik om die tuin af te baken en die groente binne in te plant. Jy sou hierdie buitebande met kompos kon opvul, soos in die geval van die plastiekhouers of, soos ek hier. Ek het ‘n paar stukke karton onder op die grond gelê om te help om die grondvog te beskerm en ook om ongewenste vuilgoed te verhoed om op te kom. DIe karton gaan met tyd afbreek en help om die grond gesond te maak.

Hier probeer ek wys dat ‘n vierkante meter nie net op ‘n horisontale twee dimensionele vlak werk nie, maar as jy hoogte bysit, jy op die derde dimensie ook nut kan kry. Hier moet jy dink aan iets wat kan oprank, byvoorbeeld tamaties, boontjies, ertjies, komkommers en selfs pampoensoorte.

Facebooktwitter