Hoekom erdwurmboerdery? Die antwoord is eenvoudig: Jy wil jou erdwurmgetalle meer maak, sodat jy meer organiese afval met behulp van jou erdwurms tot nuttige kompos kan verwerk. Met meer erdwurms in jou boerdery, kan jy ‘n groter positiewe verskil in die omgewing maak.
Die beste manier om jou erdwurmboerdery te benader is om daaroor te dink soos ‘n groot kommersiële beesboer oor sy beeste dink. ‘n Beesboer het ‘n sekere grootte kudde wat hy op ‘n spesifieke grootte area kan aanhou. Indien hy minder beeste het as die benodigde hoeveelheid, gaan hy nie sy aanteel versies verkoop nie, totdat hy genoeg beeste het.
In die geval van erdwurms hoef jy nie die vroulike wurms uit te soek (erdwurms is meerslagtig) om met hulle jou boerdery te vergroot nie. Tog wil jy elke erdwurm behou en so goed as moontlik versorg, want jou erdwurmboerdery is noodsaaklik vir jou erdwurmkomposteringsaanleg. Jy behoort te besef dat by enige boerdery waar diere betrokke is, daar toesig en versorging nodig is. Alhoewel erdwurms nie ‘n hoë mate van sorg nodig het en elke dag van kos en water voorsien hoef te word nie (soos bv. beeste nie), het hulle tog ‘n bietjie van jou aandag nodig.
As ons praat van erdwurmboerdery, praat ons dus van die vermeerdering van jou erdwurmpopulasie. Ons kan ook praat van die versorging van jou erdwurm “teelkudde” om jou getalle te laat groei of te onderhou. Daar is ‘n gesegde wat sê: “Bietjie, bietjie maak groot.” Dit is veral waar in die geval van erdwurmboerdery.
Volgens Glenn Munroe in Manual of On-Farm Vermicomposting and Vermiculture (PDF 956KB) kan ‘n erdwurmboerdery se biomassa elke sestig dae verdubbel. Of soos Munroe dit stel: “Theoretically, this means that an initial stock of 10 kg of worms can become 640 kg after one year and about 40 tonnes after two years. In practice, this is difficult to achieve, though not impossible.“
Na aanleiding van Munroe se opmerking het elkeen wat belangstel om met erdwurms te boer net een vraag om te vra: Hoe groot wil ek gaan? Om suksesvol met erdwurms te boer, moet daar aan ‘n paar basiese beginsels voldoen word, nl. geskikte behuising, geskikte kos en voldoende aandag.
Die vergoeding vir jou moeite is nie net meer erdwurms nie, maar ook selfgeproduseerde erdwurmkompos vir jou potplante, groentetuin of landerye.






