Elke vierkante meter tel
Sel: 0783343867

Dekgewasse: Deel 2

Dekgewasse Deel 2: Dekgewasse in die natuur?

Wat ek die afgelope paar jaar gesien het

In Deel 1 van my reeks oor dekgewasse, het ek vertel hoe ek by die gebruik van dekgewasse uitgekom het. In die proses waarmee ek by dekgewasse uitgekom het, het ek ‘n paar goed reg gedoen en ook ‘n paar goed verkeerd gedoen. Dit wat ek verkeerd gedoen het, was omdat ek die kar ‘n bietjie voor die perde gespan het. Ek weet ook nie of “kar voor die perde span” die regte uitdrukking is nie. My beginpunt was nie soseer uit ‘n grondgesondheid oogpunt nie, maar eerder uit ‘n estetiese oogpunt. Alhoewel ek die saak iewat verkeerdom benader het, het ek gou genoeg voordele uit die besluit begin put. Ek wou ‘n groen grasperk onder my bome hê, sodat dit mooi lyk vir my gaste wat my gastehuis besoek. Daarom het ek besluit op ‘n hoofsaaklik swenkgras/raaigras/klawer mengsel dekgewas. Swenkgrasse kan die oorskadu-effek van die pekanneutbome goed hanteer, so ook die klawers. Die raaigras was my idee van biodiversiteit. As ek egter mooi na my grond “geluister” het en verstaan het waarmee ek besig is, sou ek as ek alles kon oordoen, ‘n ander roete gevolg het.  Terloop, ek glo steeds dat die dekgewaskeuse wat ek gemaak het, ‘n baie goeie (indien nie die beste) keuse is om uiteindelik uit te kom by die beste dekgewasse wat pekanneutbome betref. Voordat ek egter verduidelik wat ek moes gedoen het, net eers ‘n bietjie agtergrond oor wat die doel van dekgewasse is.

Kaal grond en natuurlike dekgewasse

Kom ons kyk wat gebeur in die natuur wanneer grond versteur word. Hier moet jy jou verbeelding bietjie gebruik, aangesien dit nogal moeilik is om in vandag se dae “natuurlike veld” te kry. Die mens het alles ingeneem en oorgeneem en al word daar op baie plekke nie gewerk nie, word daar in die velde wat ons wel sien, baie intensief met beeste geboer. Tog sal die meeste erken dat as jy na die velde, vlaktes en bosveld kyk, jy nêrens kaal grond sien nie. Moedernatuur hou nie van kaal grond nie en Moedernatuur wil kaal grond so gou as moontlik bedek. Om die bedekking van kaal grond in aksie te sien, hoef jy nie noodwendig na ‘n stuk veld toe te stap of te ry nie, jy kan sommer in jou eie tuin of op jou eie plaas die proses aanskou.

Het jy al gesien dat waar veld oorbewei is of wanneer jy ‘n stuk grond omspit of omploeg om byvoorbeeld blom- of groentesaad te plant, jy baie gou nadat jy die saadjies begin natmaak het, met ‘n onkruid probleem sit. Duwweltjies, dorings, kakiebos, olieboom en noem maar nog ‘n paar ander op, begin welig groei. Om jou geplante saad te beskerm, moet jy so gou moontlik begin onkruidbeheer begin toepas. Nee ek wil nie nou gesels oor onkruidbeheer nie – miskien later. Wat eintlik gebeur, is dat jy die natuurlike grondstruktuur en -mikrolewe sodanig versteur het dat feitliks niks anders daar wil of kan groei nie. Wel, ander plante sal daar kan groei, as jy hulle genoeg pamperlang totdat hulle sterk genoeg is om die onkruide te oorskadu. As jy nie die grond versteur het nie, sou die onkruide nie gegroei het nie. Onkruide groei om kaal grond te bedek. Onkruide is gewoonlik vinnig groeiende plante wat onder die mees ekstreme toestande kan groei met min water en sonder enige vorm van bemesting.  Onkruide is Moedernatuur se dekgewasse.

Natuur en biodiversiteit

Onkruide is die natuur se manier om biodiversiteit in die sisteem in te kry. Soos in die vorige paragraaf genoem, sien ‘n mens ‘n verskeidenheid van onkruide opkom nadat ‘n mens die grond versteur het. Daaruit behoort ons te kan sien dat die natuur onbekend is met ‘n mono-kultuurstelsel. Poli-kultuur is die natuur se manier van doen om biodiversiteit te verseker. Wannneer jy hierdie poli-kultuur/bio-diversiteitstelsel snap, kry jy ‘n sleutel tot grond- en plant gesondheid. Onkruide is die eerste skakel in ‘n lang ketting van die opeenvolging van plante in die natuur. Die meegaande skets illustreer die natuurlike plantopeenvolging goed.

suksessie

Oorspronklike foto hier: http://people.eku.edu/ritchisong/secondarysuccession.jpg

Dekgewasse en boerdery/ tuinmaak

In die boerdery- en tuinmaakpraktyke wat oor die algemeen gebruik word, is die boer en tuinier in ‘n konstante stryd met onkruide, omdat dit die gebruik is om grond skoon te maak en om te dolwe voordat ons die plante wat ons daar wil hê, plant. Die meeste van ons grond is in ‘n “kaal” toestand. Dit is noodsaaklik dat ons vir ‘n oomblik gaan stil sit en weer kyk na die bogaande skets.

Kom ons vergeet net eers vir ‘n wyle van die term “onkruid” en deel die plantkoningkryk in eetbare en oneetbare plante in. Kom ons konsentreer vir ‘n oomblik op eetbare plante. Eetbare plante pas iewers in die voorafgaande skets in. As ons groentes wat bv. eenjarige plante is, nie meer in ‘n monokultuur inprop nie, en ‘n verskeidenheid deurmekaar plant, dan boots ons die natuur na in terme van eenjarige onkruide. As ons byvoorbeeld met pekanneute boer en nie net pekanneute plant nie, maar ook bessies en rankplante soos wat dit natuurlik in woude op die grond onder groot bome voorkom, begin ons die natuur naboots in terme van woudsisteme. Met die voorafgaande ingedagte, kan gesien word dat daar deur die hele sisteem, nêrens kaal grond voorkom nie. As jy dus begin dink oor dekgewasse, moet jy gaan kyk in watter fase van die natuurlike opeenvolging van plante jou boerdery val.  Dit gaan bepaal watter dekgewasse jy op watter tydstip gaan gebruik.

Indien jy met graanboerdery betrokke is, gaan jy ‘n dekgewaskeuse doen van ‘n hoë diversiteit dekgewasse wat kort en vinnig groei en dan van self doodgaan of maklik doodgemaak kan word. Die dooie plantmateriaal vorm dan ‘n grondbedekking wat die grond beskerm, maar word ook deel van jou bemestingsprogram. Wil jy ‘n stikstofbinder of stikstofversamelaar aanplant? Jou dekgewaskeuse wanneer jy met graan boer, gaan ook afhang of jy somer- of wintergraan plant. Dus of jou dekgewas in die somer moet groei of in die winter. As jy graan onder besproeiing of in droeëland plant gaan weer ander keuses na vore bring. Wanneer jy met ‘n meer permanente plant, soos pekanneute of sitrus te doen het, gaan jou keuse verskil. Tog gaan jy met permanente gewasse ook met ander faktore werk, soos byvoorbeld jong bome teenoor ouer bome. Wil jy ‘n skoon boordvloer hê waarvandaan jy byvoorbeeld die neute optel of gaan jy die vrugte uit die boom pluk? Gebruik jy ‘n meganiese oesproses of gebruik jy hande arbeid? Gaan jou oes in die somer of winter afgehaal word? Is die permanente gewas somer of winter groeiend? Tog gaan jou keuses hier ook rondom biodiversiteit draai. Wanneer ons dus oor dekgewasse dink, moet ons dit vanuit die natuur se hoek probeer verstaan. Die natuur se manier is die beste en ons moet ophou om daarteen te veg en eerder met die natuur begin saamwerk.

Facebooktwitter