Elke vierkante meter tel
Sel: 0783343867

Dekgewasse: Deel 1

Dekgewasse Deel I: Hoekom ek dekgewasse begin gebruik het.

Ek het in 2009 in my huidige tuiste, wat ‘n 1ha pekanneutboord insluit, ingetrek. Ek het reeds lank voor dit begin oplees oor erdwurms en het hier uiteindelik my erdwurmboerdery begin, aangesien ek  ‘n natuurlike, organiese en meer bekostigbare bemesting in my boord wou gebruik teenoor die chemiese kunsmisse wat op die mark is. Aanvanklik het ek verskeie “huise” vir die erdwurmboerdery gebruik, maar ‘n deurbraak (in talle opsigte) het gekom toe ek ‘n paar groot erdwurmbakke van omtrent 15m x 1m moes skuif om ‘n nuwe pad om ons huis te maak. Ek het die erdwurms en kompos waarin hulle was, sommer net in die pekanneutboord in ‘n ry gaan uitgooi en met kuilvoerseil bedek om die erdwurms teen die hadidas, son en gevolglike uitdroging te beskerm. Om een of ander rede het ek later die kuilvoerseil verwyder, ‘n paar koringstrooibale gaan koop en die rye meer natuurlik bedek.

Die reënval in daardie tyd was aansienlik hoër as die droër tye wat ons sedert 2013 begin beleef het en boere in die Vaalhartsskema het gereeld lusernsnitte gehad wat natgereën het en ook koringbale gehad wat nie betyds van die lande verwyder kon word voordat ‘n reënbui uitgesak het nie. Ek het bietjies-bietjies hooi en strooi aangery soos wat dit beskikbaar gekom het, maar ek het gou besef dat arbeid en brandstof ‘n koste-implikasie was wat ek in ag moes neem. Die erdwurms was baie gelukkiger in ‘n windry met koringstrooi bedek as enige erdwurmbak waarin ek ooit geboer het en die erdwurms het teen ‘n groot spoed vermenigvuldig. Ek het toe begin om die beesmis wat ek destyds by ‘n melkery in die hande gekry het, sommer daar in die land by die erdwurms te voeg en dan weer die laag met strooi te bedek. Ek het gou agtergekom dat ek die windry-erdwurms nie so gereeld hoef water te gee nie, aangesien die vog mooi bewaar word. Ek het toe ook begin om ‘n laag strooi van ongeveer 2m radius rondom elke pekanneutboom in die boord te pak.

Met die erdwurms wat vinnig baie meer begin word het en so ook die behoefte aan meer strooi, moes ek gereeld ‘n paar bakkievragte strooi aanry. Die kostes en tyd het my begin vang. Gelukkig het een van die boere my in daardie tyd gekontak en gesê dat hy ongeveer 30 ton koringstrooi het wat klaar gebaal is, maar natgereën het en of ek daarin belangstel. Ek kon dit teen baalkoste by hom koop en hy het dit na ons gesprek by my kom aflaai.

Dit was alles goed en wel, maar die strooibale het op ‘n hoop gestaan en ek moes elke keer van die strooi rondskuif om by die bome en by die erdwurms uit te bring. Kostes het meer geword. Toe het ek begin wonder of ‘n mens nie iets hier kan plant wat langs die bome groei en wanneer ek dit afsny, as  droeëmateriaal na die bome toe gehark kan word nie. In daardie tyd het my erdwurmboerdery ook tot ‘n skielike einde gekom as gevolg van omstandighede buite my beheer. Deur internetsoektogte het ek op die gebruik van groenbemesting afgekom, waar dekgewasse gebruik word vir die doel wat ek dit wou gebruik. So, my idee was nie so oorspronklik as wat ek gedink het nie – ander voor my het dit al gedoen. Ek het die bale opsy geskuif en ‘n mengsel van swenkgras, raaigras, wit klawer en persiese klawer met ‘n handsaaier gesaai. Ek het op hierdie mengsel besluit omdat ek ‘n maklik beheerbare grasperk onder my bome wou vestig en ek met ‘n grassnyer onder die bome wou inkom. Die idee was dat ek die grasse plant om koolstof in die grond op te bou en die klawers sou help om stikstof uit die lug te haal en in die grond te bind. Die saadhandelaar het my redelik skepties aangekyk, aangesien dit nie die normale praktyk tussen pekanneutbome is nie.

Ek het ook in daardie tyd toevallig ‘n nuwe vriend, Tom Fouche, ontmoet wat so 10km hiervandaan woon wat met dieselfde gedagtes as ek begin speel het. Al verskil was dat hy nie aktief dekgewasse ingeplant het nie, maar die natuurlike plante wat die meeste boere “vuilgoed” noem, gelos het en net van tyd tot tyd met ‘n bossieslaner platgeslaan het. Hy was my egter ‘n jaar of wat voor met sy geenbewerking tussen pekanneutbome. Ek het ook met Hendrik Smith van GraanSA kontak gemaak en hy het my aan die wetenskap agter dekgewasse bekendgestel en ek het deur hom ook kennis geneem van ‘n groter groep mense (plaaslik en internasionaal) wat dekgewasse al  vir ‘n geruime tyd gebruik. Dit waarmee ek besig was, is wat wêreldwyd genoem word: “bewaringslandbou,” aangesien grondbedekking met behulp van plante en deklae help om die grond te bewaar en daarmee saam allerhande ander omgewingsfunksies ook bevorder word.

Oor al die ontdekkings wat ek, veral as gevolg van hierdie twee mense, gemaak het, gaan ek later vertel.

Sedert ek met dekgewasse in my pekanneutboord begin werk het, het ek allerhande nuwe ontdekkings gemaak op grond van dit wat ek gesien het en ook op grond van dit wat ek gelees het. Dekgewasse word egter nie net in permanentegewasse gebruik nie, maar ook in boerderye waar graan en ander eenjarige plante verbou word. Hierdie is die eerste in ‘n reeks skrywes oor dekgewasse en hoekom dit noodsaaklik is vir boere en tuiniers om met bewaringslandboupraktyke te begin as hulle nog nie het nie. Ek gaan in later skrywes kyk na voordele van dekgewasse soos waterbesparing (as gevolg van beter grondstruktuur),  verminderde insetkostes (as gevolg van verhoogde mikrobiese aktiwiteite in die grond) en vele ander.

Facebooktwitter