Ek gebruik die afgelope twee jaar al erdwurmkompos op ‘n klein tot medium skaal en ek kon die effek daarvan op my plante waarneem. Die rede hoekom ek my erdwurmkompos laat ontleed het is eenvoudig: ek wou meer spesifiek weet wat in my erdwurmkompos aangaan, sodat ek te korte in my grond beter kon aanspreek. Uit die analise van die erdwurmkompos het iets positief en iets negatief uitgekom.
Eers die negatiewe
Die kenners met wie ek oor die ontledings gesels het, was dit eens dat die natrium (Na) en chloor (Cl) vlakke hoog is. Die rede hiervoor is die gebruik van beesmis afkomstig uit ‘n melkery. Daar is heelwat uriene wat saam met die beesmis gemeng is, daarom die hoë vlakke van natrium. Die chloor kan toegeskryf word aan skoonmaakmiddels wat in die water is.
Wat die mikro elemente betref, is die vlakke oor die algemeen laag en indien die kompos gebruik word vir bemesting, sal die toediening van blaarvoeding help om die plante se behoefte aan te spreek.
Die oplossing vir die probleem sal later bespreek word!
Wat die positiewe kant betref:
Die kenners is dit eens dat die erdwurmkompos oor die algemeen baie goed is. Die kalium (K) is “verbasend” laag. Die C:N is goed (relatief laag) wat beteken dat daar geen N negatiewe periode in die grond sal voorkom nie en dat die N relatief vinnig vrygestel sal word in grond. Die nitraat-N (NO3-N) is relatief hoog en die ammonium-N (NH4-N) is baie laag wat dui dat die komposteringsproses goed voltooi is. Tydens die komposteringsproses word organieseN na NH4-N en dan na NO3-N omgeskakel.
Erdwurmkompos ontleding
| Makro-elemente (mg/l) | Ca | 591.15 |
|---|---|---|
| Mg | 499.95 | |
| K | 711.58 | |
| Na | 577.05 | |
| PO4 | 73.80 | |
| SO4 | 2040.36 | |
| NO3 | 3177.71 | |
| NH4 | 0.74 | |
| Cl | 504.14 | |
| HCO3 | 250.17 | |
| Mikro-elemente en ander data (mg/l tensy anders vermeld | Fe | 0.47 |
| Mn | 0.09 | |
| Cu | 0.08 | |
| Zn | 0.09 | |
| B | 1 | |
| pH | 7.69 | |
| EG (mS/cm) | 11.43 | |
| P-Bray 1(dpm) | 448.20 | |
| N% | 1.57 | |
| P% | 0.56 | |
| K% | 0.022 | |
| C% | 15.7 |
Indien iemand daar buite ook al erdwurmkompos ontleed het, sal ek graag van hom/ haar wou hoor, sodat die ontledings met mekaar vergelyk kan word. Dit sal ook interessant wees om te sien of verskillende voedselbronne verskillende ontledings tot gevolg het en in watter mate die ontledings verskil.



