Erdwurms het soos enige ander lewende organismes voldoende kos, water en suurstof nodig om te lewe. In hierdie artikel word die nodige voedsel vir jou erdwurms bespreek!
Op die internet het ek gelees dat erdwurms die helfte van hulle liggaamsmassa per dag opeet. Toe ek dus die eerste keer erdwurms in ‘n bak gesit het, het ek gedink dat erdwurms die skille in die bak gaan verorber soos sywurms moerbyblare sal eet. Ek het daarom min of meer geskat hoeveel gram wurms ek in die bak het en die helfte daarvan per dag in die bak gegooi. Die bak het egter gou suur geraak en die erdwurms het begin kyk vir ‘n uitkomplek!Ek het toe gaan kersopsteek by ‘n paar erdwurmboere wat my vertel het dat erdwurms eintlik nie die organiese materiaal eet nie!
In werklikheid “eet” erdwurms nie die organiese materiaal nie. Die “eet” proses kan eerder verduidelik word as ’n siklus wat homself in die erdwurmbak afspeel. Aan die eenkant skei erdwurms goeie mikroskopiese organismes af en dit is die goeie organismes wat op ‘n mikroskopiese skaal die organiese materiaal laat ontbind. Aan die anderkant word die mikroskopiese organismes weer op hulle beurt die erdwurms se kos. Hoe meer erdwurms in die bak is, hoe meer goeie organismes kan afgeskei word en hoe meer goeie organismes daar is, hoe vinniger komposteer die organiese materiaal en is daar meer voedsel vir die erdwurms om van te leef en kan jou erdwurmboerdery uitbrei!




Kan ‘n mens perdemis gebruik wat op ‘n hoop gelê het en warm geword het en nou koud is om vir hulle te voer of het daardie kompos alreeds sy voedingswaarde verloor?
Dankie
Koot
Perdemis is ‘n uitstekende organiese bron om erdwurmkompos van te maak. Dit wil voorkom asof die mis wat jy gebruik reeds ‘n effense komposteringsproses ondergaan het. Onthou die komposteringsproses voeg waarde by die perdemis. Dus het daar geen voedingswaarde verlore gegaan nie. Jou erdwurms gaan nog die komposteringsgehalte van die perdemis nou nog meer verhoog.
Onthou dat as jou erdwurms nie gewoond is aan perdemis nie, moet hulle stelselmatig daaraan gewoond raak. Moet dus nie jou hele erdwurmhouer met perdemis volmaak nie, gooi net eers ‘n klein bietjie by en wagtotdat jy sien die erdwurms het in die nuwe voedselbron ingegaan.
Sterkte